Reeks om die As: Khawaja skryf sy naam in goud

Usman Khawaja het Saterdag is die 87ste speler sedert 1909 wat twee honderdtalle in ʼn toetswedstryd kon aanteken. (Foto: David Gray / AFP)

Soms het ʼn mens baie geluk aan jou kant nodig wanneer jy krieket speel.

Die Australiese kolwer Usman Khawaja het Saterdag in Sydney sy naam in die rekordboeke verewig toe hy die 87ste speler sedert 1909 geword het wat twee honderdtalle in ʼn toetswedstryd kon aanteken.

Khawaja, wat in Pakistan gebore is, maar as jong seun saam met sy ouers na Australië geëmigreer het, het kolfbeurte van 137 en 101* in die vierde toets in die Reeks om die As teen Engeland aangeteken om sy span in ʼn byna onaanvegbare posisie te plaas.

Nadat die Aussies 416/8 in hul eerste beurt (beurt gesluit verklaar) aangeteken het, het hulle hul tweede beurt op 265/6 gesluit verklaar.

Dit het aan Engeland, wat 294 in sy eerste beurt aangeteken het, die taak gelaat om 388 lopies vir ʼn oorwinning aan te teken.

Teen uitskeityd op dag vier het Engeland 30/0 gehad, nog 358 lopies duskant ʼn oorwinning.

Khawaja was aanvanklik nie in die Aussies se toetsspan nie en het Travis Head vervang wat Covid-19 opgedoen het.

Khawaja het sy kans met albei hande aangegryp en die keurders sit nou met ʼn tameletjie, want hoe kan hulle hom vir die vyfde toets weglaat?

Aan die ander kant, Head het tellings van 152, 51, 69 en 27 in die eerste drie toetse aangeteken en kan beslis ook nie weggelaat word nie.

* Vyf Suid-Afrikaners (by ses geleenthede) het ook die mylpaal van twee honderdtalle in ʼn toets behaal.

Alan Melville en Bruce Mitchell het dit albei in 1947 in die reeks tussen Suid-Afrika en Engeland vermag, maar Suid-Afrika moes tot in 1995 in Kolkata wag voordat Gary Kirsten (114 en 123*) twee honderdtalle in dieselfde toets teen Indië kon aanteken.

Jacques Kallis het dit twee keer vermag, naamlik in 2007 in Karatsji teen Pakistan toe hy 155 en 100* aangeteken het en weer in 2011 op Nuweland toe hy 161 en 109* teen Indië gemoker het.

Hashim Amla het dit in 2010 teen Indië in Kolkata vermag toe hy kolfbeurte van 114 en 123* aangeteken het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.