All Blacks het respek vir Franse flair

Frankryk se Antoine Dupont. (Foto: Franck Fife/AFP. )

Die tafel is gedek vir die eerste wedstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk wanneer die gasheerland teen die All Blacks in Parys speel.

Fabien Galthié en Ian Foster het hul spanne vir die kragmeting bekendgemaak met die Fransman wat op opwindende spelers soos Thomas Ramos, Damian Penaud, Antoine Dupont en Gregory Alldritt kan reken om sy veldtog op ʼn wennoot te begin.

Vir die All Blacks sal Jordie Barrett die openingswedstryd met ʼn kniebesering misloop, terwyl Tyrel Lomax se been nog nie voldoende herstel het nadat dit op Twickenham met ʼn Springbok-rugbystewel kennis gemaak het nie.

Die Nieu-Seelanders het hul laaste opwarmingswedstryd met 35 – 7 teen Suid-Afrika in Londen verloor en hoewel Foster ná afloop van die littelosmaakstryd gesê het dat die uitslag hom nie baie pla nie, hou geen All Blacks-span daarvan om as verloorders van die veld te stap nie.

Tog is ʼn Wêreldbeker ʼn perd van ʼn gans ander kleur en die Kiwi’s het nog nooit ʼn groepwedstryd in die toernooi verloor nie.

Ian Foster. (Foto: Michael Bradley/AFP. )

“Dit is ʼn voorreg om in die openingswedstryd teen die gasheerland te speel. Ons aanvanklike doelwit is om vir die kwarteindstryd te kwalifiseer en om dit te doen moet ons momentum in die groepfase bou,” het Foster gesê.

Volgens die All Blacks se afrigter is Frankryk een van die gunstelingspanne om die Wêreldbeker te wen en die Nieu-Seelanders sal dus sommer vroeg in die toernooi behoorlik getoets word.

David Kirk het ook die Nieu-Seelanders teen die Hane gewaarsku.

Kirk was aan die stuur van die All Blacks-groep wat in 1987 die Wêreldbeker-eindstryd teen die einste Fransmanne met 29 – 9 gewen het.

“Ek dink elke Franse span beskik oor die vermoë om met die All Blacks af te reken; dit is iets wat jy nie van baie ander lande kan sê nie. Nieu-Seeland het nog altyd baie respek vir Frankryk se vermoë op die rugbyveld gehad, maar ons het al meer wedstryde as hulle gewen,” het die 62-jarige oudspeler in ʼn onderhoud met RugbyPass gesê.

Die wedstryd begin Vrydag om 21:15 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Frankryk: Thomas Ramos (heelagter), Damian Penaud (regtervleuel), Gael Fickou (buitesenter), Yoram Moefana (binnesenter), Gabin Villière (linkervleuel), Matthieu Jalibert (losskakel), Antoine Dupont (kaptein en skrumskakel), Gregory Alldritt (agtsteman), Charles Ollivon (flank), Francois Cros (flank), Thibaud Flament (slot), Cameron Woki (slot), Uini Atonio (stut), Julien Marchand (haker) en Reda Wardi (stut). Plaasvervangers: Peato Mauvaka, Jean-Baptiste Gros, Dorian Aldegheri, Romain Taofifenua, Paul Boudehent, Maxime Lucu, Arthur Vincent en Melvyn Jaminet.

All Blacks: Beauden Barrett (heelagter), Will Jordan (regtervleuel), Rieko Ioane (buitesenter), Anton Lienert-Brown (binnesenter), Mark Telea (linkervleuel), Richie Mo’unga (losskakel), Aaron Smith (skrumskakel), Ardie Savea (agtsteman), Sam Cane (kaptein en flank), Dalton Papali’i (flank), Scott Barrett (slot), Sam Whitelock (slot), Nepo Laulala (stut), Codie Taylor (haker) en Ethan de Groot (stut).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.