All Blacks laat die gevaarligte flikker

Foto: (Andrew Cornaga/Photosport via AP)

Vergeet van die Rugbykampioenskap, die Wêreldbeker is al wat tel.

Dit was die gevoel vanuit die All Black-kamp nadat die Springbokke vroeër vanjaar die Rugbykampioenskap gewen het.

Was dit net suur druiwe, of steek daar tog waarheid daarin, want nie een van die Wêreldbekerwenners van 2007 (Springbokke), 2011 en 2015 (albei All Blacks) het in dieselfde jaar ook die Drienasies of die Rugbykampioenskap gewen nie.

Foto: (Andrew Cornaga/Photosport via AP)

Die All Blacks was vanjaar maar stadig uit die blokke, maar Saterdagoggend in Hamilton het hulle die eerste tekens van ʼn hernieude aanslag op ʼn derde agtereenvolgende WB-oorwinning gegee toe hulle Tonga met 92-7 in ʼn WB-opwarmwedstryd oorrompel het.

Dit was byna die All Blacks se beste span en veral in die eerste helfte, toe hulle met 54-0 voor was, moes hulle hul WB-teenstanders erg sooibrand gegee het.

Hulle het altesame 14 drieë gedruk, 1 101 meter met die bal gevorder, 35 keer die verdediging oopgevlek en alle aspekte oorheers.

Foto: (Andrew Cornaga/Photosport via AP)

Die telling was net ʼn rapsie minder as in 2000, toe die All Blacks met 102-0 gewen het.

Het die All Blacks nie in die laaste 13 minute besluit om met net 14 spelers te speel nie (word dit werklik as ʼn toets beskou?) sou die honderdtal sekerlik op die telbord gepryk het.

Ja, hulle is toegelaat om vinnige besit te wen en die Tongane se verdediging (soms laat en sonder om hul arms te gebruik) het baie te wense oorgelaat.

Daar was eintlik niks nuuts in die All Blacks se spel nie, hulle het basies soos die Crusaders gespeel, die bal vinnig na hul twee vinnige en vaardige vleuels George Bridge en Sevu Reece gerek, terwyl Ben Smith ook vanuit die laaste vesting gebaljaar het.

Foto: (Andrew Cornaga/Photosport via AP)

Dan het Beauden Barrett ook gewys dat hy die Kiwi’s se beste losskakel is en Kieran Read het sy beste vertoning vanjaar in die nr. 8-trui gelewer met die vuurvreter-flank Ardie Savea kort op sy hakke.

* In Newcastle in Engeland het die tuisspan Vrydagaand ook na ʼn hoër rat oorgeskakel toe hy Italië met 30-7 geklop het.

Engeland vertrek Sondag na Japan waar hy op 22 September teen Tonga speel.

Dit was ʼn ideale kleedrepetisie en Engeland het gespeel soos hy in Japan gaan vertoon. Vergeet van hoek toe skop en drieë druk, wanneer die geleentheid hom voorgedoen het, het die losskakel Owen Farrell die telbord met strafdoele aan die rol gehou.

Te oordeel na Engeland en Tonga se opwarmwedstryde gaan Tonga geen kans hê om die Rose te pluk nie.

* Skotland het op Murrayfield sy voorbereiding met ʼn oorwinning van 36-9 oor Georgië afgesluit.

Die Skotte pak Japan op 22 September en is op die regte pad, veral nadat Japan Vrydag erg voor die Bokke geswig het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Frans C ·

Tonga het glad nie goed gevaar in sy laaste wedstryde nie.Tonga het sedert 2018 11 wedstryde gespeel waarvan hul 4 gewen en 7 verloor het.Hulle kon die Western Force
slegs met 19-15 klop.’n Wales-toerspan het hul 74-24 geklop.
Ek sou dus nie die All Blacks se oorwinning te hoog aanslaan nie want Tonga se verdediging was soos ‘n sif.

Jimmy ·

Wêreld Rugby moet wakker skrik. Hulle behoort Vlak 2 lande toe te laat om hul spelers wat vir ander lande gespeel het wel te kies. Hordes Suidsee spelers het vir ander lande gespeel. Wat die wêreldbeker betref moet Vlak 2 lande eerder in streke opgedeel word, soos die Suidsee eilande, Suid Amerika, Noord Amerika, Afrika, Asië en Europa. Tans is dit net ‘n klug.

Kobus ·

Ek stem saam Jimmy, die wêreldbeker kort drastiese veranderinge en meer woema. Tans kan die top 5 lande sake uitspook, met vier harde wedstryde vir elke span. Hierdie gedoente in Japan gaan 80% tydmors wees.

kolla ·

Interessant dat Tonga net nou die dag in ‘n tuiswedstryd met 7 – 41 teen Japan verloor het. Wys jou maar hoe swak hulle is.

Nico K ·

Stem ook saam met Jimmy. Die reel dat jy nooit weer vir ‘n ander land mag speel nie, het die klein landjies benadeel, veral die suidsee eilande. Hulle wil nie vir hul land speel nie want dan verloor hulle die kans om vir ‘n ryker land gekies te word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.