Barrett oefen weer ná Arendse-botsing

Beauden Barrett oefen weer saam met die All Blacks. Foto: Dave Lintott/AFP.

Volgens Beauden Barrett het hy vir ’n minuut of twee die ergste gevrees ná sy botsing met Kurt-Lee Arendse verlede Saterdag op die Mbombela-stadion.

Arendse, wat ’n skop in die 74ste minuut van die kragmeting agternagesit het, het in die lug met Barrett gebots en die All Blacks-losskakel het op sy kop geval.

“Ek kan nie onthou wie vir my gesê het dat ek moet stil lê nie. ’n Kort rukkie later was die mediese span by my en die dokter het my gevra of ek my vingers en tone kan beweeg. Ek was dankbaar toe ek al die toetse kon slaag en self van die veld kon stap,” het die Kiwi-speler in ’n onderhoud met All Blacks TV gesê.

’n Tugkomitee het Arendse intussen vir vier weke geskors. Daar is egter ook bevind dat die Springbok se optrede nie doelbewus was nie, terwyl sy goeie dissiplinêre rekord ook in sy guns getel het.

“’n Mens is nogal skrikkerig wanneer jy agteroor tuimel en op jou kop en skouers land. Dit is alles egter deel van die spel; elke keer wanneer jy om die hoë bal baklei, moet jy dapper wees,” het Barrett bygevoeg.

Die veteraan van 105 toetse glo dat die Springbokke sal voortgaan om die All Blacks met skoppe te peper.

“Dit is een van Suid-Afrika se sterk punte want hulle saai verwoesting in die lug en skakel dan na die aanval oor wanneer die bal nie behoorlik bemeester word nie.”

Die All Blacks is ook oorgehaal om weer op die wenpad te kom nadat hulle drie toetse op ’n streep verloor het.

“Ons glo in wat ons doen en waarheen ons as ’n span op pad is. Wen is ’n gewoonte, maar dieselfde kan ongelukkig ook van verloor gesê word. Ons moet onsself net aan ons vaardighede herinner, waarom ons rugby speel en wat ons in die eerste plek hier gekry het.”

  • Die All Blacks-span vir die Ellispark-toets word later vandag bekend gemaak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.