Beleërde Gatland glo hy kan die Bokke aanvat

Warren Gatland. (AP Photo/Aaron Favila.)

Kyk, Christia Visser se “17 Shots” het absoluut niks met rugby uit te waai nie, maar as Warren Gatland Afrikaans verstaan het, sou hy waarskynlik haar raad gevolg het en sopies boegoebrandewyn weggeslaan het “om homself te vind”.

Die beleërde Gatland was so te sê onstuitbaar terwyl hy aan die stuur van Wallis was: ’n Grand slam hier en ’n grand slam daar, terwyl hy ook met ’n rits agtereenvolgende seges gespog het.

Goeiste, hy is selfs deur lede van die rugbypubliek as die beste afrigter ooit bestempel.

Maar terug in Nieu-Seeland en in beheer van die Chiefs het dinge binne ’n japtrap minder rooskleurig geword.

Ja, die bal het al verkeerd gebons, ’n omstrede drie is toegeken en sy eie seun het sy wendrome met ’n woer-woer-skepskop gesink, maar Gatland is ’n man wat daaraan gewoond is om te wen; nie om te verloor nie.

Die Nieu-Seelanders het hom spottenderwys 007 gedoop nadat hy sewe wedstryde na mekaar verloor het.

Nou is hy ook in die spervuur as die afrigter van die Britse en Ierse Leeus vir hul komende toer na Suid-Afrika. Die Britse media brom dat daar in die verlede te veel Walliese spelers in die groep gekies is.

Gedurende die Leeus se vorige toere na Australië en Nieu-Seeland het onderskeidelik 15 en 12 Walliese spelers hul tasse gepak.

“Ek belowe julle dat niemand voorgetrek word nie. Dit is my werk om toe te sien dat die Leeus ’n toetsreeks wen en dat die beste spelers gekies word,” het hy homself verdedig.

Gedurende die afgelope Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan, het Gatland-hulle so byna met die fisieke Bok-span in die halfeindstryd afgereken.

Die Suid-Afrikaners het weliswaar daarna vir Engeland in die eindstryd gestoomroller, maar Gatland glo dat hy weet hoe om Jacques Nienaber se span te uitoorlê.

“Enige span kon eintlik daardie halfeindstryd-kragmeting gewen het. Ons het ses van ons laaste sewe wedstryde teen die Bokke gewen deur die bal lewend te hou en die groot manne lekker rond te jaag; amper ’n lekker armdruk-kompetisie as jy wil.”

Volgens Gatland is die Springbokke se groot sterk punt nie soseer hul beginvyftiental nie, maar eerder hul plaasvervangers.

“Wanneer ’n mens na hul plaasvervangerbank kyk, is sommige van daardie spelers selfs beter as die spelers wat op die veld is. Hulle het gesorg dat die momentum die heeltyd aan Suid-Afrika se kant is.”

Hy glo daar is genoeg groot spelers in Ierland, en ja, in Wallis, om die Bokke fisiek aan te vat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.