Benetton laat sterbelaaide Sharks bietjie sweet

’n Skitterende Aphelele Fassi op pad na die doellyn. Foto: Twitter.

Die sterbelaaide Sharks – met spelers soos Aphelele Fassi, Lukhanyo Am, Siya Kolisi en Thomas du Toit in sy beginspan – het met tye harde bene teen ’n saamgeflansde Benetton-vyftiental gekou.

Verskeie van die tuisspan se sterkste spelers (13 om presies te wees) is deel van Italië se Sesnasies-veldtog en die afrigtersgroep moes noodgedwonge ’n hele paar onervare spelers vir die wedstryd nadertrek.

Die Durbaniete het weliswaar die wedstryd met 29 – 7 gewen, maar hulle het veral in die tweede helfte slordige rugby gespeel.

Sean Everitt, hoofafrigter, sit waarskynlik met ’n bietjie meer vrae as antwoorde ná die kragmeting; ’n vreemde verskynsel wanneer ’n span vier drieë gedruk het om met ’n bonuspunt te wen.

Maar daardie einste bonuspuntdrie het eers in die 79ste minuut van die wedstryd gekom toe S’bu Nkosi oor die Benetton-doellyn geduik het.

Die Sharks het die meeste van hul punte in die eerste helfte – danksy drieë deur Ruben van Heerden, Fassi en Phepsi Buthelezi – gedruk, maar in die laaste 40 minute het bedenklike hanteerwerk en ’n gespook en gespartel om die wedstryd te beheer hulle gekniehalter.

Curwin Bosch het met tye gesukkel om sy stempel as losskakel af te druk en die besoekers het meer gevaarlik op die aanval gelyk toe Joaquin Diaz Bonilla hom laat in die kragmeting vervang het.

Maar kom ons laat staan al die negatiwiteit: Die Sharks het weg van die huis gewen, hulle het ’n bonuspuntdrie gedruk en hulle is nou agtste op die Verenigde Rugbykampioenskap se punteleer.

Die beste onder die Suid-Afrikaanse spanne in die reeks.

  • Puntemakers:

Sharks: Drieë: Ruben van Heerden, Aphelele Fassi, Phepsi Buthelezi en S’bu Nkosi. Doelskoppe: Curwin Bosch (3). Strafskop: Bosch.

Benetton: Drie: Carl Wegner. Strafskop: Tomas Albornoz.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.