Pas nadat hy van `n siekte herstel het, moes die Springbok-skrumskakel Ruan Pienaar Saterdag weer die veld met `n besering verlaat.
Hy was terug in Ulster se span na sy siekte en het Saterdag `n strafdoel bygedra tot die Ierse se sege van 13-10 oor Glasgow Warriors in die Kingspan-stadion, Belfast.
Hy moes egter die veld in die 30ste minuut met vermeende harsingskudding verlaat.
Pienaar het byna ook `n drie gedruk, maar `n teenstander het rakelings voor hom `n hand op die bal gekry.
Engelse Premierliga
♦ Twee Suid-Afrikaners het `n hand in elk van Worcester Warriors se twee drieë Saterdag teen Bath gehad, maar kon nie keer dat die besoekers die kragmeting in die Engelse Premierliga op Sixways 16-14 wen nie.
Eers het die gewese Springbok-senter Wynand Olivier deur `n gaping geglip voor hy na Chris Pennell aangegee het wat Cooper Vuna oorgestuur het.
Vervolgens het `n verwisseling van aangeë tussen Olivier en die gewese Blou Bul-kaptein Gerrit-Jan van Velze tot `n drie deur Donncha O’Callaghan gelei.
♦ `n Drie deur die gewese Engelse toetssenter en oud-Sharks-speler Brad Barritt vir Saracens was maar `n druppel in die emmer teen die onverwagse stortvloed waarmee Wasps die Engelse kampioen 64-23 Sondag op Allianz Park, Londen, verswelg het.
Op die koop toe is Sarries se kaptein, die gewese Springbokslot Alastair Hargreaves met `n geel kaart van die veld gestuur.
Pro12-liga
♦ Cornall du Preez, `n gewese losvoorspeler van die Kings se Superrugbyspan en SA o.20-speler, wat ná `n rits drieë vroeg in die seisoen `n droogte beleef het, het Saterdag weer vir Edinburgh teen die Llanelli-gebaseerde Scarlets gedruk.
Die Wallisers het die wedstryd 22-21 gewen.
Nog `n oud-Kings-speler, David Bullbring, het sy buiging vir die Scarlets gemaak nadat hy deur die Southern Kings vir vanjaar se Superrugbyreeks oor die hoof gesien is.
♦`n Kuitbesering het veroorsaak dat die Newport Gwent Dragons se sterheelagter, die Pietermaritzburg-gebore Carl Meyer, die tweede keer in `n paar weke kort voor sy wedstryd Donderdag teen Connacht onttrek het.
Die South Wales Argus sê die Dragons het nie die diepte om die beserings van Meyer en etlike ander sleutelspelers te verwerk nie en Connacht het die wedstryd op Rodney Parade, Newport, 26-21 gewen.
Engelse Kampioenskap
♦ Brendon Cope het agt van Jersey se punte in sy sege van 23-18 in die Engelse Kampioenskap oor Bedford in die Goldington Road-stadion behaal.
Die gewese o.21-losskakel van die KZN Sharks het twee strafdoele en `n doelskop behaal.
Nick Fenton-Wells, `n gewese flank van die Stormers, het luidens die Bedford Blues se webwerf, sy gebruiklike stewige vertoning vir die klub gelewer.
♦ Die oud-Ikey Ross Jones-Davies het twee strafdoele (ses punte) vir die Rotherham Titans teen Moseley bygedra.
Laasgenoemde het die wedstryd op sy tuisveld, die Billesley-meent, 16-11 gewen.