Blitsbokke op wenpad ná derde sege

Blitsbok Shilton van Wyk druk ‘n drie teen Kanada tydens die sewestoernooi. (Foto: Twitter/ Blitzboks)

Die Blitsbokke, wat steeds onoorwonne is ná die eerste dag van Wêreldrugby se sewestoernooi in Hamilton, Nieu-Seeland, speel laat Saterdagaand (23:58) in die eerste kwarteindronde teen Frankryk.

Geoordeel aan hul vertonings op die eerste dag, behoort die Blitsbokke die nodige grofgeskut te hê om tot die halfeindronde deur te dring.

Die Blitsbokke het bo-aan Groep D geëindig nadat hulle Kanada met 34 – 5, Spanje met 19 – 12 en Argentinië oornag met 17 – 14 geklop het.

Frankryk het tweede in Groep A agter die onoorwonne Fidjiane geëindig nadat die Hane oorwinnings oor Kenia (26 – 21) en Samoa (21 – 10) behaal het, maar teen Fidji (10 – 26) vasgeval het.

Dit was nog nie ʼn foutlose vertoning deur die Blitsbokke nie en hoewel hulle 12 drieë gedruk het (ses teen Kanada en drie elk teen Spanje en Argentinië), het hulle ook ses afgestaan.

Hulle moes ook diep delf om Argentinië en selfs Spanje te klop.

Teen Argentinië was die Blitsbokke rustyd met 12 – 7 voor nadat Rodrigo Isgro vir die Poemas gaan druk het, maar die Blitsbokke met twee drieë deur Dalvon Blood en Christie Grobbelaar toegeslaan het.

Die Argentyne het die voortou in die tweede helfte met 14 – 12 geneem toe Luciano Gonzalez ʼn drie gedruk het.

Zain Davids het die Argentyne se lot verseël toe hy voor die einde gedruk het.

Die Franse is vol ondernemingsgees, maar teen Fidji is hul gebreke oopgevlek. As die Blitsbokke dit as maatstaf gebruik, behoort hulle die Franse te klop.

Puntemakers: Suid-Afrika 17 (12): Drieë: Dalvon Blood, Christie Grobbelaar, Zain Davids. Doelskop: Ricardo Duarttee. Argentinië 14 (7): Drieë: Rodrigo Isgro, Luciano Gonzalez. Doelskoppe: Santiago Vera Feld (2).

Suid-Afrika teen Spanje: Suid-Afrika 19 (7): Drieë: Dalvon Blood, Selvyn Davids, Shaun Williams. Doelskoppe: Ricardo Duarte (2). Spanje 12 (0): Drieë: Eduardo Lopez, Francisco Soriano. Doelskop: Francisco Cosculluela.

Suid-Afrika teen Kanada: Suid-Afrika 34 (19): Drieë: Shilton van Wyk (3), Selvyn Davids, Christie Grobbelaar, Shaun Williams. Doelskoppe: Ricardo Duarttee (2). Kanada 5 (5): Drie: Phil Berna.

Uitslae: Suid-Afrika 34, Kanada 5; Argentinië 20, Spanje 5; Fidji 26, Frankryk 10; Ierland 14, Uruguay 12; Samoa 31, Kenia 5; VSA 40, Japan 12; Nieu-Seeland 45, Tonga 0; Australië 28, Brittanje 14, Argentinië 29, Kanada 14; Suid-Afrika 19, Spanje 12; Fidji 21, Kenia 7; Japan 24, Uruguay 19; Frankryk 21, Samoa 10; Tonga 26, Brittanje 21; VSA 14, Ierland 14; Nieu-Seeland 21, Australië 19; Fidji 22, Samoa 12; Suid-Afrika 17, Argentinië 14; Amerika 28, Uruguay 12; Kanada 12, Spanje 5; Ierland 33, Japan 12; Frankryk 26, Kenia 22.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.