Blitse verloor sleg teen Iere; nou wag Argentyne

Die Blitsbokke in Los Angeles. (Foto: X/Blitsbokke)

ʼn Mens het altyd hoop wanneer die Blitsbokke speel. Dié verwagting is te danke aan hul spogvertonings in die verlede en die wete dat daar talentvolle spelskeppers in die groep is.

Maar goeiste, deesdae is dit ongelukkig meer van ʼn geploeter as ʼn partytjie wanneer hulle speel.

Suid-Afrika kon nie ʼn enkele punt in sy openingskragmeting van die Los Angeles-sewestoernooi aanteken nie en Ierland het die wedstryd op ʼn drafstap met 17 – 0 gewen.

Dinge het sommer vroeg in die wedstryd vir die Blitsbokke skeefgeloop toe hulle nie die afskop kon bemeester nie en binne ʼn oogwink ʼn drie afgestaan het.

Zac Ward was net soos verlede naweek in Vancouver ʼn skerp doring in die Suid-Afrikaners se vlees en sy kragspel is met twee drieë beloon.

Afrigter Sandile Ngcobo het in aanloop tot die toernooi gesê dat die Blitsbokke dringend aan hul geestelike ingesteldheid moet aandag gee, maar tans lyk dit of die ander spanne ’n sesde rat gevind het terwyl die Suid-Afrikaners nog in vyfde rat vorentoe beweeg.

Dinge word ook nie veel makliker in LA nie: Die vlieënde Argentyne wag later vanaand op die span.

Ja-nee, hulle sal dinge bitter vinnig moet regruk.

  • Puntemakers:

Ierland: Drieë: Zac Ward (2) en Connor O’Sullivan. Doelskop: Ed Kelly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.