Blitsige Van Wyk wil by ’Canes bly

Kobus van Wyk het ’n sensasionele debuut vir die Hurricanes gemaak. Foto: Twitter.

Die voormalige vleuel van die Stormers en die Sharks Kobus van Wyk wil nog ’n seisoen of twee vir die Hurricanes uitdraf.

Die 28-jarige het sy Nieu-Seelandse avontuur op die beste moontlike manier begin toe hy ’n driekuns van drieë teen die Sunwolves in sy debuutwedstryd gedruk het.

Hy het uiteindelik vier drieë in sy drie Hurricanes-kragmetings gedruk vóór beserings en die wêreldwye Covid-19-pandemie sy seisoen deurmekaar gekrap het.

“Ek voel baie tuis saam met die ouens hier. Dit was ’n ongelooflike paar maande en ek dink my agent en die Hurricanes is besig om die kontrak vir ’n verdere moontlike twee jaar te verleng. Dit sal nog so ’n week neem om uit te sorteer,” het Van Wyk in die Nieu-Seelandse media gesê.

Hy is tans in Wellington saam met sy vrou, Juné, en hul tweejarige seun, Elijah.

“Dit is moeilik, want jy kan niks vir jou ouers terug in Suid-Afrika doen nie; as iets gebeur, kan jy hulle nie ondersteun nie. Ek is daagliks in kontak met hulle en ek mis hulle baie.”

Die Hurricanes en die Blues speel op 14 Junie in die eerste ronde van die Kiwi’s se plaaslike “Super-reeks”.

Volgens Van Wyk word ’n groot ophef in Nieu-Seeland gemaak oor die voormalige ‘Canes-speler Beauden Barrett, wat nou sy rugby in Auckland speel.

“Kortom, ons moet hom keer. Hy is nogal vinnig en ons ouens beraam planne om hom te stop en onder sy vel in te kruip.”

Die voormalige Sharks-breier John Plumtree het ’n deurslaggewende rol in sy skuif na Nieu-Seeland gespeel.

“Al is hy nou deel van die All Blacks-opset, praat ons nog steeds met mekaar. Hy maak gereeld ’n draai op sy fiets vir ’n vinnige koffiesessie. Hy is ’n goeie ou.”

Hoewel hy sy beste vir die Hurricanes wil gee, droom hy steeds om eendag vir die Springbokke uit te draf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Alexander ·

Kobus Van Wyk is ‘n puik rugbyspeler wat beslis hoër louere verdien. Die kwotastelsel maak dit egter bitter moeilik vir ‘n blanke vleuel om Springbokkleure te verwerf. Ek is nietemin dankbaar dat hy in Nieu Seeland die blootstelling kry wat hy verdien. Miskien word sy Sprinbokdroom dalk tog eendag waar.

MakersMark ·

Hy het nog nooit regtig hond haaraf gemaak in SA rugby nie. Bly by die Canes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.