Bok-bankkrag: Farrell het nie slapelose nagte

Johnny Sexton en Andy Farrell. (Foto: Guillaume Souvant/AFP)

Die Springbok-span se verdeling van sewe voorspelers en net een agterspeler op sy plaasvervangersbank steel ongetwyfeld die mediakollig in aanloop tot die Wêreldbeker-wedstryd teen Ierland op die Stade de France.

Andy Farrell, die Iere se afrigter, is oor die Suid-Afrikaners se bankkrag gepols toe hy Donderdagmiddag sy Ierland-groep vir die kragmeting bekendgemaak het. Volgens die 48-jarige Engelsman het hy nie slapelose nagte oor die Springbokke se sterk plaasvervangers nie.

“Ek dink dit is baie goed. Dit is ʼn taktiek wat by hul spelpatroon pas en hulle weet natuurlik wat hul sterk punte is; net soos wat ons weet wat ons span sʼn is,” het Farrell gesê.

Ierland is die wêreld se voorste rugbyspan en hulle het nou 14 wedstryde op ʼn streep gewen.

“Ek het wel vir ons voorspelerafrigters gevra of ons nie dalk sewe agterspelers en een voorspeler as plaasvervangers vir die wedstryd moet kies nie, maar hulle was nie daarvoor te vinde nie,” het Farrell geskerts.

Die Iere het vyf voorspelers op hul plaasvervangersbank, terwyl Conor Murray, Jack Crowley en Robbie Henshaw vir die agterlynslaankrag in die tweede helfte moet sorg.

Volgens Farrell het hy genoeg vertroue in sy eie plaasvervangers om die Springbokke se vars voorspelers te neutraliseer.

“Ons het hul wedstryd teen Nieu-Seeland ontleed toe hulle vir die eerste keer op die 7/1-verdeling besluit het. Suid-Afrika het natuurlik toe skrumwerk-momentum geniet, maar ek weet dat ons spelers hul man sal kan staan.”

Op die ou einde help dit nie om net oor ʼn rugbywedstryd te praat nie; wat op die speelveld gebeur, is veel belangriker.

“Suid-Afrika se plaasvervangers pla my nie veel nie. Ons sal doodeenvoudig net baie goeie rugby moet speel om die verdedigende wêreldkampioen te klop. En dit is al wat vir ons saak maak.”

Die wedstryd begin Saterdag om 21:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Springbokke: Damian Willemse (heelagter), Kurt-Lee Arendse (regtervleuel), Jesse Kriel (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Cheslin Kolbe (linkervleuel), Manie Libbok (losskakel), Faf de Klerk (skrumskakel), Jasper Wiese (agtsteman), Pieter-Steph du Toit (flank), Siya Kolisi (kaptein en flank), Franco Mostert (slot), Eben Etzebeth (slot), Frans Malherbe (stut), Bongi Mbonambi (haker) en Steven Kitshoff (stut). Plaasvervangers: Deon Fourie, Ox Nche, Trevor Nyakane, Jean Kleyn, RG Snyman, Marco van Staden, Kwagga Smith en Cobus Reinach.

Ierland: Hugo Keenan (heelagter), Mack Hansen (regtervleuel), Garry Ringrose (buitesenter), Bundee Aki (binnesenter), James Lowe (linkervleuel), Johnny Sexton (losskakel), Jamison Gibson-Park (skrumskakel), Caelan Doris (agtsteman), Josh van der Flier (flank), Peter O’Mahony (flank), James Ryan (slot), Tadhg Beirne (slot), Tadhg Furlong (stut), Ronan Kelleher (haker) en Andrew Porter (stut). Plaasvervangers: Dan Sheehan, David Kilcoyne, Finlay Bealham, Iain Henderson, Ryan Baird, Conor Murray, Jack Crowley en Robbie Henshaw.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.