Bokke beskou Namibië glad nie as kanonvoer

Bokafrigter Rassie Erasmus. (Foto: Twitter)

Springbok-afrigter Rassie Erasmus meen sy span beskou nie vir Namibië as kanonvoer nie en dat die span beslis nie kan bekostig om nog Wêreldbeker-wedstryde in Japan te verloor nie.

Erasmus het 13 veranderinge vir Saterdag se Afrika-derby by die Toyota-stadion gemaak, met Schalk Brits wat die span op agtsteman sal aanvoer. Siya Kolisi is op die plaasvervangersbank.

“Ons moet nou basies elke liewe wedstryd wen en ons benader hierdie kragmeting met dieselfde intensiteit as vir die wedstryd teen Nieu-Seeland,” het hy gesê.

“Hierdie is ’n Springbok-span wat uitgehonger is om te speel en wat graag vir hulle ondersteuners wil wys waartoe hulle in staat is. Boonop het die meeste van hulle die afgelope seisoen die geleentheid gehad om saam in die verskillende kombinasies te speel.”

Volgens Erasmus sal die Bokke alles in die stryd werp om weer op die wenpad te kom nadat hulle die afgelope naweek 13 – 23 teen die All Blacks op Yokohama vasgeval het.

“Die span het ’n belangrike werk om te doen: Mens verloor altyd momentum ná ’n nederlaag en ons sal weer op dié momentumgolf wil klim. Al manier waarop jy dít kan vermag, is om góéd te wen.”

Dit sal slegs die derde keer wees wat dié twee spanne kragte meet: Die vorige kere was die Bokke 105 – 13 op Nuweland baas, terwyl hulle 87 – 0 in 2011 se Rugbywêreldbekertoernooi geseëvier het.

Maar die Namibiërs het goed teen Italië vertoon en het enduit geveg om met net 25 punte vas te val.

“Ja, ons sal die wedstryd as die gunsteling begin, maar daar sal ’n reuseskok op ons wag indien ons dink dat dié etiket genoeg sal wees om die wa deur die drif te trek. Ons sal al ons teenstanders met dieselfde erns benader en by ons wedstrydbeplanning bly.”

Die wedstryd skop Saterdag om 11:45 af.

Springbokke: Warrick Gelant (heelagter), S’Bu Nkosi (regtervleuel), Lukhanyo Am (buitesenter), Frans Steyn (binnesenter), Makazole Mapimpi (linkervleuel), Elton Jantjies (losskakel), Herschel Jantjies (skrumskakel), Schalk Brits (agtsteman en kaptein), Kwagga Smith (flank), Francois Louw (flank), Lood de Jager (slot), RG Snyman (slot), Vincent Koch (stut), Bongi Mbonambi (haker), Beast Mtawarira (stut). Plaasvervangers: Steven Kitshoff, Thomas du Toit, Eben Etzebeth, Siya Kolisi, Franco Mostert, Cobus Reinach, Damian de Allende, Cheslin Kolbe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

SjN ·

Skop minder, te veel voorspelers in agterlyn en die bal kom nooit by die vleuels uit nie, ek merk in die berig dat Bongi van haker ontpop het in n slot, sterkte.

Nettie ·

Faf het verlede Saterdag teleurgestel. Hoeveel keer was ons “uithaalwerk” nie vertraag a.g.v die feit dat Faf elders op die veld bedrywig was nie? En daardie onnodige tik-skoppies wat in omgekeerde bal-besit (vir die All Blacks) geëindig het??? Ek hoop net Herschel Jantjies kan die druk hanteer – hy IS immers ‘n bietjie onervare op internasionale gebied.

Leon Strydom ·

Behoort geensins opposisie te wees nie! Plaas dat hy kolisi speel laat die man kan fiks word. Hy is net daar vir die show en beteken niks
Vir n span wat droom om die wereldbeker te vat en hy is bang vir namibie. Wat n grap.

Kan nie wen nie ·

Ai Leon, ek het weer gelees en nerens sien ek dat Rassie of wie ookal “bang is vir Namibie” nie. Die afrigterspan reken bloot hulle dink Namibie gaan nie weer “kanonvoer” wees nie en hulle benader dit met dieselfde intensiteit as die NZ wedstryd. Maw hulle dink Namibie het verbeter en gaan beter rekenskap van hulself gee. Doen hulle dit nie, dan word hulle ook aangeval vir hul oorgerustheid en/of arrogansie. Maak nie saak wat die Bokke doen nie, party mense sal net fout soek en fout vind.

Ek stem saam dat hulle Namibie maklik behoort te wen en dat Namibie nie (sterk) opposisie gaan wees nie. Maar moenie oorgerus wees nie. Selfs in 1995 het die Bokke as ek reg onthou gesukkel om Roemenie in Kaapstad te wen – waarskynlik omdat hulle die opponente onderskat het en oorgerus was.

Kwagga ·

Ja en hul het teen Japan verloor……jy MOET respek he vir teenstanders ongeag of hul goed of minder goed is. Dit game rugby word nie verniet met n langbal gespeel nie.

Pietsnot ·

Gee vir Hershelle Jantjies net n paar toetse en Rassie coach al die flair uit hom uit, net soos hy met Faf gedoen het.

Buffel ·

Rassie het ons lank genoeg probeer flous met sy sideshows, totdat hy Saturdag teen die Kiwis gewys het hy het dieselfde wedstrydplan as Toetie en Heyneke. Skop besit weg en hoop die teenstanders maak foute.

Swartwolf ·

Daar was nie ‘n groter disaster vir bok rugby as toetie nie, met huidige kwota kaptein kort op sy hakke as nr 2 grootste disaster.

rollie ·

Die span wat die mooiste rugby so ver gespeel het, is Wallis. Dit was nou wel teen Georgie maar werklik aanskoulik. Sal interessant wees of hulle hul spelpatroon gaan verander wanneer hulle Sondag teen Australie speel, hopelik nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.