Bokke bly skerp op die oefenveld

Die Springbokke is tans nog die topspan in Groep B van die Wêreldbeker-toernooi. Vanaand se wedstryd tussen Skotland en Ierland sal egter deurslaggewend wees. (Foto: Twitter/Springbokke)

Ofskoon Ierland en Skotland nog vanaand in ʼn belangrike Groep B-wedstryd op die Stade de France moet speel, het die Springbokke die Wêreldbeker-kwarteindstryd in visier.

Die verdedigende Wêreldkampioen-span kan nog uitgeskakel word as al twee spanne ʼn driedrukbonuspunt in Parys behaal en Skotland vir Ierland met 21 of meer punte klop.

“Ons het alles in ons vermoë gedoen om in ʼn posisie te wees om vir die kwarteindstryd te kwalifiseer; nou kan ons net wag en kyk wat gebeur,” het Vincent Koch gesê.

Volgens die Springbok-stut het die Suid-Afrikaners glad nie dinge rustiger op die oefenveld gevat nie.

“Ons het geoefen soos wat ons vir ʼn belangrike uitspeelwedstryd sal voorberei. Ja, ons moet vir vanaand se finale uitslag wag, maar om vir ʼn kwarteindstryd voor te berei was nogtans ons hooffokus.”

Die afrigtersgroep het die Bokke se vertoning teen Tonga ontleed en met planne vorendag gekom sodat die span hul beste rugby in die uitkloprondes kan speel.

Daar word verwag dat Ierland vanaand te veel skietgoed vir die vurige Skotte kan hê en indien dit wél die geval is, sal Suid-Afrika teen Frankryk in die volgende ronde van die toernooi kragte meet.

Vroeër het Jean Kleyn – ʼn speler wat ʼn paar keer vir Ierland uitgedraf het – ook gesê dat Johnny Sexton-hulle met die wedstrydlouere teen Skotland kan wegstap.

“As ons realisties na Saterdag se wedstryd kyk, gaan Ierland wen. Hulle speel tans baie goeie rugby.”

Tog glo hy dat daar nog altyd ʼn tikkie vyandigheid tussen die Iere en die Skotte op die rugbyveld was.

“Kyk byvoorbeeld na ʼn wedstryd tussen Munster en Glasgow – daar is altyd ʼn bietjie meer aggressie betrokke. Dit is ʼn strydlustige storie en dit is selfs meer in die kollig wanneer Ierland teen Skotland speel.

“Saterdag beloof om ʼn ernstige toets te wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.