Bokke kan 100ste All Blacks-toets in Dunedin speel

Foto: GB Jordaan

Nadat die Springbokke nie verlede jaar deel van die Rugbykampioenskap-aksie was nie, sal hulle vanjaar se toernooi met twee tuistoetse teen Argentinië afskop. Hulle sal daarna vir vier wedstryde na Australië en Nieu-Seeland reis.

Die Suid-Afrikaners sal op 25 September en 2 Oktober teen die All Blacks kragte meet en volgens Rugbypass sal die 100ste toets tussen dié twee lande in Dunedin gespeel word.

In die voorafgaande 99 wedstryde kon die Springbokke net 36 toetse wen, terwyl die Nieu-Seelanders 59 keer koning gekraai het. Daar was vier gelykop uitslae.

“Dit is altyd ’n massiewe uitdaging om die All Blacks in hul agterplaas aan te vat. Dan gaan Argentinië van krag tot krag, terwyl die Wallabies altyd taai teenstanders is,” het Rassie Erasmus, SA Rugby se direkteur van rugby, gesê.

“Daar is ’n lekker wedywering tussen ons, maar ons het ook baie respek vir mekaar.”

Ná die kragmetings teen Georgië en die Britse en Ierse Leeus, sal dit Jacques Nienaber se eerste proesel van internasionale rugby teen teenstanders van die Suidelike Halfrond wees.

Brendan Morris, die uitvoerende hoof van SANZAAR, het op sy beurt gesê dat daar hard agter die skerms gewerk is om dinge te midde van die Covid-19-pandemie te probeer organiseer.

Hy is egter opgewonde oor die Springbokke se teenwoordigheid.

Springbokke teen Argentinië (17 Augustus 2019) (Foto: GB Jordaan)

“Die Springbokke is die verdedigende Wêreldkampioenspan en dit is fantastiese nuus vir rugbyliefhebbers dat hulle weer in die toernooi sal speel.”

Net soos verlede jaar sal die Poemas weer eens al hul wedstryde weg van die huis speel en Morris het die Suid-Amerikaners vir hul onbaatsugtigheid bedank.

  • Bepalings:

14 Augustus: Springbokke teen Argentinië (Suid-Afrika)

21 Augustus: Springbokke teen Argentinië (Suid-Afrika); Australië teen All Blacks (Australië)

28 Augustus: All Blacks teen Australië (Nieu-Seeland)

11 September: All Blacks teen Argentinië (Nieu-Seeland); Springbokke teen Australië (Australië)

18 September: All Blacks teen Argentinië (Nieu-Seeland); Australië teen Springbokke (Australië)

25 September: All Blacks teen Springbokke (Nieu-Seeland); Australië teen Argentinië (Australië)

2 Oktober: All Blacks teen Springbokke (Nieu-Seeland); Australië teen Argentinië (Australië)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.