Bokke moet beter in Bloemfontein wees

Die Springbokke sal met ’n beter vertoning in die tweede toets vorendag moet kom. Foto: GB Jordaan.

Damian Willemse se suksesvolle strafskop in die doodsnikke van die wedstryd het gesorg dat die Springbokke vir Wallis met 32 – 29 op Loftus Versfeld geklop het.

’n Wen bly ’n wen, maar dit was hoegenaamd nie ’n goeie vertoning nie en die tuisspan het veral in die eerste helfte drooggemaak.

Elton Jantjies was met tye die kluts kwyt, terwyl daar ook op die aanval gesukkel is. Rustyd het die Rooi Drake ’n onverwagse (maar verdiende) voorsprong van 18 – 3 geniet.

Cheslin Kolbe is een van die spelers wat altyd 100% gee wanneer hy die Springbok-trui oor sy kop trek en sy drie in die tweede helfte het beslis tot die Suid-Afrikaners se uiteindelike oorwinning bygedra.

Tog het hy nie doekies omgedraai toe hy oor die span se vertoning gepraat het nie.

“Ons was nie goed genoeg in die eerste 20 minute van die wedstryd nie. ’n Paar harde woorde het teen rustyd geval, maar ons is volwassenes wat mekaar wil trots maak,” het die vlieënde Kolbe gesê.

Cheslin Kolbe. Foto: GB Jordaan.

Volgens die agterspeler het die Springbokke eintlik eers in die laaste minute van die wedstryd ordentlik vlam gevat.

“Ons het toe balbesit behou, in hul gebied gespeel en hulle onder druk probeer hou. Terselfdertyd het ons ook met meer trots gespeel.”

Hy is veral trots op Willemse se vertoning.

Die veelsydige Stormers-speler was bestendig onder die hoë bal, waarna hy ’n veel beter vertoning agter die skopkelkie as die ervare Jantjies gelewer het.

“Ek dink hy het nog soveel meer om vir die Springbokke te bied en ek is seker dat hy sal aanhou om aan sy spel te skaaf en te verbeter.”

Die tweede toets word volgende naweek in Bloemfontein beslis en die Springbokke sal beslis op hul vertoning wil verbeter.

Hulle was gister goed genoeg om met ’n begeesterde Rooidraak-span af te reken, maar ’n soortgelyke vertoning teen die All Blacks en Frankryk en die uitslag sal waarskynlik baie anders lyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

SjN ·

Kies net die spelers op meriete en op vorm van die begin af, dit kan mos nie so moelik wees nie, haal die politiek uit sport.

John ·

Dankie tog iemand wat met my saamstem…. los die ou manne en gewese goeie spelers en speel die in vorm spelers. Erasmus het n probleem met dit…sy gunstelinge bly maar in die span.

piet ·

Dit was maar nog altyd ‘n probleem, die afrigter wil sy gunstelingspelers speel.

piet ·

Watter spelers word nie op meriete gekies nie? Dalk nie op vorm nie ja, dis ‘n probleem maar nie die speler se skuld dat hy gekies word nie. Maar jy’s reg, dis ‘n ou ding van die Springbokke dat hulle baie konserwatief is met spankeuses. Drop nie sommer ‘n speler nie (al is hy nie op vorm nie). Blykbaar het Jantjies vanjaar nog net 60 minute rugby gespeel voor die toets. Dis dus onverstaanbaar hoekom hy gekies is, swak keuse.

Witbaard ·

Drop vir Elton Jantjies, dan is die grootste probleem opgelos. En gee vir Colby meer betyds en gereeld die bal.

piet ·

Ek hoop dis die laaste sien van Jantjies, genade hy was vrot. Faf ook nie die beste van dae gehad nie. Die Bokke het nie te sleg gespeel nie (voorspelers was goed) maar die 2 genoemde spelers se gesukkel het die ritme ontwrig.

Niklaas ·

Ons moet tog asb net nie so speel teen daardie magtige All Blacks wat Ierland so opgefrommel het nie. Selfs Australië , Engeland en Frankryk sou top tellings al met rustyd teen ons aangeteken het. Maar dis dalks goed dat ons nou wakker geskrik het en nou meer voorbereid gaan wees vir die Walliese span.

Kokkie ·

Gee vir Nienabertjie ‘n rooikaart vir spankeuse en ‘projekwerk’.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.