Bokke ontbied Specman, Du Preez en Grobbelaar  

Die Springbokafrigter, Jacques Nienaber. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Springbok-afrigter Jacques Nienaber het Rosko Specman, Dan du Preez en Johan Grobbelaar opgeroep om by die Springbokke in Kaapstad aan te sluit.

Grobbelaar het die afgelope paar seisoene sy staal gewys vir die Vodacom Bulls terwyl Specman verlede maand sy toetsdebuut teen Georgië gemaak het. Du Preez het egter ʼn plek in die span teen Georgië asook vir die SA A-span misgeloop nadat hy positief vir Covid-19 getoets het.

“Ons het ʼn moeilike Castle Lager-rugbykampioenskapreeks wat voorlê ná die besluit van Saterdag teen die Britse en Ierse leeus, en gegewe die streng Covid-19-protokolle waaraan ons moet voldoen, het ons besluit om die spelers vroeër as later in te haal,” het Nienaber gesê.

Die drietal sluit by Duane Vermeulen en Jaden Hendrikse aan wat ook vroeër opgeroep is.

Die Springbokke is bewus daarvan dat hulle beter gaan moet presteer terwyl hulle voorberei vir Saterdag se laaste en beslissende wedstryd teen die Britse en Ierse Leeus.

“Ons het ʼn uitgebreide hersiening gehad van Saterdag se wedstryd en daar was dinge wat ons goed gedoen het en ander gebiede waarop ons kan verbeter, maar as ʼn kollektief wil ons op elke gebied van die spel verbeter,” het Lood de Jager gesê.

Die Springbok-voorspelerbreier, Deon Davids, meen die Bokke is gereed vir die groot week wat voorlê en gefokus op hul belangrike taak nadat hulle Maandag na die oefenveld teruggekeer het.

“As ek Saterdag se prestasie met ons vorige wedstryd vergelyk, voel ek dat die voorspelers goed gereageer het op die uitdagings wat ons in die gesig gestaar het en op die gebiede wat ons voel ons moet verbeter.”

Duane Vermeulen. (AP Photo/Ross Setford)

Davids is verheug dat Vermeulen weer by die groep aangesluit het ná ʼn enkeloperasie.

“Hy sal vandag saam met ons oefen sodat ons kan sien hoe vaar hy tydens die opleiding en dan sal ons teen môre ʼn besluit neem [of hy die naweek kan speel]. Hy is ʼn ervare speler en die bydrae wat hy tot die span kan lewer, is van onskatbare waarde.”

Davids is ook opgewonde oor Hendrikse se blootstelling aan die nasionale opset en meen die ander Springbok-skrumskakels sal van onskatbare waarde vir hom wees soos hy sy loopbaan ontwikkel.

“Dit is ʼn wonderlike geleentheid vir Jaden om te leer van die ander meer ervare skrumskakels in die groep, soos Herschel (Jantjies), Faf (de Klerk) en Cobus (Reinach) en om hom bloot te stel aan hierdie vlak van die spel, sodat hy is gereed as hy in ʼn stadium die kans kry om te speel,” het Davids gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.