Bokke op die kruin, Wallis heel onder

Nick Mallett was aan die stuur van die Springbokke in 1998. (Foto: Skermskoot/SuperSport)

Die jaar 1998 was goud vir die Springbokrugbyspan, maar een van die donkerste tye in Europese rugby.

Die Springbokspan het in 1997 met sy ongelooflike oorwinningstog begin toe die Bokke die Wallabies met 61-22 op Loftus Versfeld oorrompel het.

Dié dag het Carel du Plessis ook verneem dat hy as Springbokafrigter gepos is, want die nuus was op al die koerantplakkate teen die lamppale op pad Loftus toe … terwyl Du Plessis nog nie amptelik van sy afdanking in kennis gestel is nie.

Nick Mallett is in Du Plessis se plek aangestel en het op ʼn hoogtepunt begin toe die Bokke al vyf toetse aan die einde van 1997 op ʼn ry (en op toer) gewen het.

Die Bokke het vroeg in Mei en Junie 1998 hierop voortgebou toe hulle die Iere in twee bakleitoetse met 37-13 en 33-0 geklop het. Hierna is Wallis met 96-13 vermorsel en Engeland is op ʼn papsopnat Nuweland met 18-0 getroef. Die Bokke was ook die eerste keer onoorwonne in die Drienasiesreeks.

Dit was ʼn keerpunt vir die Europese spanne, want hulle het ná die kragmetings in Suid-Afrika druipstert teruggekeer huis toe, van afrigters verander en toe ʼn nuwe tydvak ingelui.

Ek sal nooit die Walliesers wat deur die instaan-afrigter Alec Evans afgerig is, se nagmerrietoer vergeet nie.

Vyf wedstryde in Suid-Afrika gespeel, al vyf verloor.

Hulle het darem vir Zimbabwe met 49-11 geklop, maar teen die Opkomende Springbokke (35-13), Grens (24-8), die Sharks (30-23) en die Valke (39-37) verloor voordat hulle deur die Bokke verpletter is.

Ek onthou toe die onbeholpe Walliesers kort voor die enigste toets in Ruimsig in Roodepoort gaan oefen het.

Evans het hulle belet (net soos Harry Viljoen dit ʼn paar jaar daarna in Argentinië ook gedoen het) om te skop.

“Julle gaan slae kry, maar julle gaan nie die bal skop nie. Die spel gaan oor drieë druk, om die bal te beheer, om jou teenstander van besit af weg te hou,” het die 69-jarige Evans, wat die Wallabies in 1984 tot ʼn Grand Slam (oorwinnings oor al drie Britse tuisunies en Ierland) aangevoer het, gesê.

Die wedstryd teen die Opkomende Springbokke is in Secunda gespeel en toe die spelers ná die tyd in die kleedkamer kom, was daar ingebreek en al hul persoonlike besittings was boonop gesteel.

“Wanneer julle eendag die Vyfnasies (Italië het eers in 2000 bygekom) wen, sal julle die dag onthou,” het Evans gesê sonder om sy stem te lig.

Sy woorde het baie lank gevat om waar te word, want Wallis kon eers in 2005 weer die Sesnasies wen.

Maar die saadjie was geplant.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.