Bokke se oorsese bepalings bevestig

Argieffoto (Foto: GB Jordaan)

Die Springbokke maak in Junie hul terugkeer tot die wêreldverhoog met die span se kragmeting teen Wallis op Twickenham in Londen.

Die Bokke sal in hul oorsese toere teen Skotland op Murrayfield en Engeland, ook op Twickenham, te staan kom.

Die huidige rugbywêreldbeker-kampioene sal die toer op Sondag 10 November in Edinburgh teen die sesde gekeurde Skotland afskop – die einste span wat hulle in die openingswedstryd van verlede jaar se Wêreldbeker teëgekom het – voordat hulle op 16 November teen Engeland, vyfde op die ranglys, in Londen uitdraf. Daarna wag Wallis (10de posisie) op 23 November in Cardiff.

Die kragmeting teen Skotland sal die eerste wees sedert die Bokke se wegholsege van 18-3 oor die Skotte in Marseille, terwyl dit hul eerste besoek in Edinburgh sedert November 2021 sal wees. Hier het die Bokke ook oortuigend met 30-15 gewen.

Die laaste keer wat die Bokke Engeland op Twickenham teëgekom het, was in November 2022, met ʼn oorwinning van 27-13, terwyl hulle laas teen Wallis in Cardiff in ’n Wêreldbeker-opwarmingstryd gespeel het en ʼn rekordoorwinning van 52-16 behaal het.

Die kragmeting teen Wallis sal intussen hul tweede teen hul Walliese eweknieë vanjaar wees, aangesien die spanne ook op Saterdag 22 Junie in die Bokke se openingswedstryd van die seisoen op Twickenham sal kragte meet.

Rassie Erasmus, Springbokbreier, sê die span sien uit na ʼn boeiende toer hierdie jaar.

“As ’n span wil ons onsself deurlopend aan die topspanne in die wêreld meet, en om teen Skotland, Wallis en Engeland op die jaareindtoernooi te speel, twee spanne wat ons in die Wêreldbeker-toernooi teëgekom het, sal fantasties wees vir die span en die spelers,” het Erasmus gesê.

Wallis het ’n teleurstellende Sesnasies-reeks agter die blad, terwyl Skotland twee van sy vyf wedstryde gewen het en Engeland drie.

“Hulle is altyd ’n krag om mee rekening te hou op hul tuisveld, so ons weet ons moet aan die bopunt van ons spel wees wanneer ons teen hulle te staan kom.”

Die Springbokke pak boonop die Iere op 6 Julie op Loftus Versfeld en 13 Julie in Durban, Portugal (20 Julie) en dan Nieu-Seeland op Ellispark (31 Augustus) op tuisbodem. Kaapstad is ʼn week later die gasheer vir die Bokke se tweede wedstryd teen die All Blacks.

“Ons het ’n uitdagende seisoen wat voorlê. Boonop speel ons twee wedstryde teen Australië en Argentinië.

“Om Skotland, Engeland en Wallis aan die einde van die jaar te pak, sal beslis dinge vir die span opkikker, so ons sien baie uit na die seisoen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.