Bokke sien uit na Franse kwarteindstryd

Die Springbok-span wat Sondagaand teen Frankryk op die Stade de France speel. (Foto: Twitter/Springbokke)

“As ons nie na ons volle potensiaal speel nie, gaan dit die einde van ons toernooi-pad beteken,” het Mzwandile Stick gesê.

Die Springbokke speel Sondagaand in die kwarteindstryd van die Wêreldbeker teen Frankryk, die gasheerland, op die Stade de France in Parys.

“Daar is nie meer enige tweede kanse nie. Dit gaan ʼn taai wedstryd wees want Frankryk se entoesiastiese ondersteuners staan ook bankvas agter hul span, maar ons is hier om ons land te verteenwoordig.”

Volgens die Springbok-hulpafrigter was die Suid-Afrikaners in die kwarteindstryd van die 2019-Wêreldskouspel in ʼn soortegelyke situasie toe hulle teen Japan in Tokio gespeel het.

Siya Kolisi se span het daardie kragmeting met 26 – 3 gewen, danksy Makazole Mapimpi se twee drieë en Handré Pollard se skopvoetbydrae van 11 punte.

“In 2019 was elke wedstryd soos ʼn eindstryd vir ons; ons is dus al te bewus van die belangrikheid om geleenthede met al twee hande aan te gryp. Ja, dit is ʼn groot oomblik, maar ons het goed voorberei en ons sien uit na die wedstryd.”

Hoofafrigter Jacques Nienaber het vroeër die belangrikheid van dissipline in ʼn uitspeelwedstryd onderstreep. Die Bokke se kanse om verlede jaar in Marseille te wen is juis deur Pieter-Steph du Toit se rooi kaart ondermyn.

“Die intensiteitsvlakke gaan nou hoër wees as verlede jaar en ons wil bitter graag ons goeie dissiplinêre rekord in die toernooi behou,” het Nienaber gesê.

Die wedstryd begin Sondag om 21:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.