Bokke vlieg, Rassie bly vir eers

Rassie Erasmus. Foto: GB Jordaan.

Die Springbokke is vandag op pad na Australië vir die oorblywende Rugbykampioenskap-wedstryde. Die Suid-Afrikaners is tans bó aan die punteleer nadat hulle hul eerste twee wedstryde teen Argentinië gewen het.

Jacques Nienaber (afrigter) het egter bevestig dat Rassie Erasmus in Suid-Afrika sal agterbly en dat hy dalk later na Australië sal reis.

Erasmus, SA Rugby (Saru) se direkteur van rugby, word deur ’n tugverhoor in die gesig gestaar nadat hy vroeër ’n video van 62 minute uitgereik het waarin hy videogrepe uitwys waar hy glo die Springbokke in die eerste toets in Kaapstad teen die Britse en Ierse Leeus te na gekom is. Hy het ook voorbeelde uitgelig waar daar nie genoegsame respek aan die Bokke, en veral nie aan die Bokkaptein, Siya Kolisi, betoon is nie.

Veral Australië se Nic Berry het onder Erasmus se bekwame videoredigeer-vingers deurgeloop en Rugby Australië het die “aanval” onder meer as “onaanvaarbaar” bestempel.

“Rassie het besluit om vir eers in Suid-Afrika agter te bly sodat die span se hooffokus op die Rugbykampioenskap bly en hulle na die beste van hul vermoë op die veld kan presteer,” het Nienaber gesê.

“Hy sal deurgaans ’n aktiewe rol in ons span en tydens die afrigtersvergaderings speel. En, as dinge uitwerk, kan hy later by ons aansluit.”

Wêreldrugby sal binnekort die amptelike datum van Erasmus se tugverhoor, sowel as die lede wat op die tugkomitee sal dien, bekendmaak.

Intussen meen die voormalige Springbokafrigter Ian McIntosh dat Erasmus vir sy video aangeprys moet word; skeidsregters is immers nie verhewe bo kritiek nie.

Volgens McIntosh het die spel in die afgelope paar jaar te reëlbehep geword, met sekere bepalings wat gereeld by die reeds bestaande wette gevoeg word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anton ·

Asseblief Rassie, wat jy ook al doen, moenie om verskoning vra nie

Tubac ·

Die AUS pers was gereed vir hom. Moontlik maar die uitweg gekies om sy aansien nog te behou.

Anoniem ·

Hy kon natuurlik ook die “no comment” opsie gekies het indien die Aussie pers met hom wou Kodesa.

Tubac ·

Nee. Jy ken blykbaar nie hoe die Aus pers soos n neet aan iets vasklou nie.Dit sal ook die span beinvloed. Jy beledig nie n Ossie ref en dan dink niks sal gebeur nie. Dit is nie net die publiek nie, maar ook in die rugby kringe. Ek vermoed hy weet dat hy die koue skouer sou kry. As n Ossie direkteur so sy mond uitgespoel het teen n Suid Afrikaanse skeidsregter, wat sou die reaksie in Suid Afrika gewees het?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.