Bokke was nie akkuraat, sê Nienaber

Lukhanyo Am het een van die Springbokke se drieë gedruk. Foto: GB Jordaan.

Springbok-afrigter Jacques Nienaber meen sy span was nie akkuraat genoeg nie en dit het aan die All Blacks ʼn oorwinning van 35-23 op Ellispark besorg. “Ons was nie so akkuraat soos ons verlede week was nie en hulle het aangehou om die bal uit te gee, en het hoë-risiko-rugby gespeel wat ons nie so goed kon hokslaan nie,” het Nienaber ná die wedstryd gesê.

Daar moet waarskynlik ook vrae gevra word oor besluitneming op die veld. Talle strafskoppe wat Handré Pollard maklik kon oorklits, is vir die hoekie geskop. Die All Blacks het duidelik hulle huiswerk gedoen en kon die Bokke se lynstaan-maalbewegings in hul spore stuit. Waarom toe daarmee volhard is, eerder as om punte op die telbord te sit, weet nugter.

Dieselfde moet gevra word oor die lugskoppe wat uitstekend hanteer is deur All Black-heelagter Jordie Barrett. Ná die soveelste wegskop van balbesit, moet daar mos ʼn ander plan wees? Veral as jou agterspelers soos Lukhanyo Am, Makazole Mapimpi en Willie le Roux gevaarlik lyk elke keer wanneer hulle met die bal aan die hardloop gaan.

Die Bokke gaan ook weer moet kyk na die 6-2 verdeling op die plaasvervangerbank. Volgens Nienaber het hulle daardie kombinasie gebruik in meer as 30 van die 45 wedstryde waarby hy as lid van die afrigtingspan betrokke was. En dit het vir die Bokke gewerk, maar wanneer ʼn agterspeler beseer word vroeg in die wedstryd, soos die geval was met Jesse Kriel, dan is die opsies beperk later in die wedstryd.

ʼn Positiewe punt van die wedstryd is dat die Bokke talle geleenthede geskep het. Soos Nienaber sê, hulle was drie keer oor die doellyn, maar het geen punte om daarvoor te wys nie. “Soms verloop sake in jou guns en jy druk daardie drieë, en soms nie.”

Kaptein Siya Kolisi het gesê die fokus is nou op die volgende Kampioenskapstoets teen Australië. Die span vertrek hierdie week en speel op 27 Augustus in Adelaide.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

SjN ·

Nienaber soek klomp verskonings, hy is deel van die probleem en hou aan met spelpatroon en keuses wat duidelik nie werk nie!

Andries ·

Verloor sal makliker aanvaar word as mens oortuig kan wees dat elke speler suiwer op verdienste ingesluit word.

Henning ·

Nee-wat, my ou – Springbokke skop al hul balbesit weg. Moeilik om punte aan te teken, wanneer jy die hele tyd balbesit aan die opponerende span oorhandig.

krodedil ·

Die Bokke het bewys hulle kan mooi vinnige hardloop rugby speel. Die doellose skoppery en speelpatroon het die Bokke gekelder. Spankeuses deur bestuur kan net beskryf word as uiters swak. Dit tyd het ryp geword dat SA rugby (Almal van A tot Z) skoongemaak moet word. Begin by die afrigtingsbestuur. Die bom sqaud is ook uitgedien. Dit maak voorsiening vir onfikse spelers om na 40 min vervang te word.

Frans ·

Die probleem het begin by swak voorry keuse wat die All Blacks uitgebuit het,Weg was die pak se dominasie in die skrum en het die All Blacks met genoeg besit en gebied die Bokke ‘n rugbyles geleer
wat Nienaber en kie hopelik sal verstaan en nie weer sulke swak spankeuses in die voorry maak nie.

Niklaas ·

Joseph Gweba was die breier se een groot fout. Het ons so ‘n skaarste aan goeie hakers dan ? Waar is Akker en oorweeg selfs vir Bismark al is hy al aan die ou kant. Thor Vermeulen kort duidelik nog baie oefening. Hoop nie hy word net op reputasie gekies nie. Am was meesterlik op die veld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.