Bonuspunt teen Fidji ʼn móét

(Foto John Cowpland / Colorsport / DPPI (Photo by John Cowpland / Colorsport / DPPI AFP)

ʼn Bonuspuntoorwinning oor Fidji, en niks minder nie, is die groot doelwit van die Suid-Afrikaanse vrouerugbyspan in hul volgende kragmeting in die Wêreldbekertoernooi.

Die Springbokke het weliswaar nog nooit vantevore teen Fidji gespeel nie, maar hulle is daarvan oortuig dat hulle die Suidsee‑eilanders kan troef al is hulle ’n totaal onbekende faktor.

“Ons verwag die onverwagte. Hulle het hier en daar goed teen Engeland gespeel en ’n paar mooi drieë gedruk, maar hulle kan nie sonder die bal speel nie,” het die veelsydige Bok-voorspeler Catha Jacobs oor Sondag se stryd in Auckland gesê.

Die Bokke en Fidji is op die agtervoet om vir die WB-uitspeelrondes te kwalifiseer ná hul nederlae die afgelope naweek in die toernooi se eerste reeks wedstryde.

Frankryk het Suid-Afrika met 40 – 5 geklop, terwyl Engeland die Fidjiane met 84 – 19 vermorsel het.

“Ons moet eenvoudig ’n bonuspuntoorwinning oor Fidji behaal om op koers te bly om onder die topagt te eindig. As ons dit nie regkry nie, is dit neusie verby,” sê Jacobs.

Die Bok-bestuur het die laaste dag of twee die Suid-Afrikaners se vertoning teen Engeland fyn bestudeer en daar was heelwat ligpunte.

Die Bok-kamp glo die eindtelling was geensins ’n getroue weergawe van wat op die veld gebeur het nie.

“Die statistieke wys duidelik die doelgerigtheid waarmee ons gespeel het.

“Ons het 49% balbesit gehad en was 17.1 minute op die aanval. Daarenteen het die Franse 51% balbesit gehad en was hulle 17.6 minute op die aanval.

“Dit is nie ’n groot verskil nie. Ons het egter in die eerste twintig minute kleigetrap en die Franse toegelaat om drie drieë te druk, wat uiteindelik teen ons getel het,” sê Jacobs.

Die Bok-kamp is van mening dat Suid-Afrika die Franse op die agtervoet gehad het in die vaste skrums, asook die oorhand in die lynstane gehad het.

Die Bokke het ook fisiek hul man gestaan en ’n hele paar van die Franse rolmaalbewegings suksesvol in hul spore gestuit.

“Ons is tevrede met heelwat aspekte van ons spel, maar sal beslis op ons verdediging moet verbeter indien ons Fidji wil troef. Hulle het ’n paar vernietigende aanvallers wat jou kan straf as hul ruimte gegun word,” het Jacobs gesê.

Die Bokke se laaste wedstryd is teen Engeland, wat reeds gewys het waarom hulle as die beste span ter wêreld gereken word.

Dus is die kragmeting met Fidji die Suid-Afrikaners se eerste en laaste kans om te wys dat hulle ook op die wêreldverhoog hoort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.