Britse minister verwar Itoje met Rashford

Marcus Rashford en Maro Itoje. Foto’s: Paul Ellis en Christiaan Kotze/AFP.

Daar was al ’n hele paar seremoniemeesters wat met ’n briljante faux pas by ’n troue vorendag gekom het. Soos om die bruid met die bruidegom se vorige meisie te verwar.

Daar is ’n frons of twee, maar later lag almal weer lekker saam terwyl hulle na nog ’n sokkietreffer luister.

Gavin Williamson, die Verenigde Koninkryk se onderwysminister, het in ’n soortgelyke slaggat getrap toe hy die Manchester United-ster Marcus Rashford se lof ná ’n Zoom-sessie besing het.

“Ons het op Zoom gesels en hy was baie passievol en vriendelik, maar hy moes kort daarna weer gaan. Ek wou beslis nie in die pad van sy voorbereidingswerk staan nie,” het Williamson aan die Britse media gesê.

Sy adviseurs het egter later gesê dat hy eintlik met Maro Itoje gepraat het – die Engelse rugbyspeler wat hom daarvoor beywer dat jong mense toegang tot skootrekenaars kry.

“As gevolg van die onlangse bespiegelinge het ek dit goedgedink om te bevestig dat ek nie Marcus Rashford is nie,” het Itoje sedertdien op sosiale media geskerts.

Op sy beurt het Williamson gesê dat hy bloot ’n eerlike fout gemaak het.

“Ons het die fout met die joernalis reggestel voordat die storie gepubliseer is. Ek het baie respek vir Marcus Rashford en vir Maro Itoje,” het Williamson gesê.

Maar in die vreemde tye waarin ons leef word daar dikwels ’n mediaberg van ’n molshoop gemaak.

David Lammy, ’n politikus, het vir Williamson as “onkundig en onbekwaam” bestempel. Volgens Wales Online is die woordvoerder van Boris Johnson (Britse eerste minister) selfs gevra of dit rassisties is om die twee sportmanne met mekaar te verwar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.