Bulls knoop Lions se stert

Die Bulls het die meeste besit gehad en ook gebiedsvoordeel geniet, maar tog het daar ʼn hele paar dinge gehaper. (Foto: GB Jordaan)

In die ou dae is daar altyd gespog dat die Blou Bulle eers voorlangs saggemaak het en dan agterlangs slaan.

Saterdagmiddag op Loftus Versfeld het Marcell Coetzee-hulle op die patroon voortgeweef toe hulle die Lions in die Verenigde Rugbykampioenskap met 21-13 geklop het nadat hulle rustyd met 13-6 voorgeloop het.

Die Bulls het die meeste besit gehad (63%) en ook gebiedsvoordeel geniet, maar tog het daar ʼn hele paar dinge gehaper.

Wanneer jy met 21-6 voor is en oorheers, moet jy darem ʼn bonuspuntdrie druk.

Dit het nie gebeur nie, want daar was gans te veel strafskoppe, te veel hanteerfoute en verkeerde besluitneming.

Ter versagting was die veld loodswaar ná al die reën wat in Pretoria uitgesak het.

Wanneer laas het Morné Steyn ʼn goeie aangee aangeslaan?

Morné Steyn, losskakel van die Bulls, in aksie. (Foto: GB Jordaan)

Die Lions, wat verlede week deur die Bulls met 34-10 ore aangesit is, het harde woorde in die kleedkamer gehad en mekaar uitgedaag om met groter passie te speel.

Ja, die Lions het beter gevaar, maar ai, hulle kan mos nie as die voorste Suid-Afrikaanse span in die VRK-reeks afsluit om sodoende in die geldryke Europese Kampioenebekerreeks te speel as hulle nie meer op die aanval uitrig, beter besit kry en meer drieë druk nie.

Hul verdediging was baie beter en veral Francke Horn het uitgeblink.

Die Bulls het net 57 duikslae gemaak en met net ses misluk, terwyl die Lions 18 van hul 126 duikslae verbrou het.

Die Lions het harde woorde in die kleedkamer gehad en mekaar uitgedaag om met groter passie te speel. (Foto: GB Jordaan)

Daar was 29 strafskoppe in die wedstryd, want die skeidsregter, Aimee Barrett-Theron, het nie geaarsel om albei spanne, veral in die skrums en by die afbreekpunte, te straf nie.

Dit het die vloei van die wedstryd bederf, maar die spelers sal ook moet selfondersoek instel oor hoekom soveel skrums op strafskoppe uitloop.

Vir die Bulls het die heelagter Kurt-Lee Arendse, die vleuel Madosh Tambwe en die senter Harold Vorster van vuurwarm tot koud geblaas.

Voorlangs het die plaasvervangerstut Lizo Gqoboku sy man gestaan, asook die woelige haker Johan Grobbelaar, Walt Steenkamp, Ruan Nortje en Erich Louw wat uitgeblink het.

Punte: Bulls 21 (13): Drieë: Marcell Coetzee, Johan Grobbelaar, Kurt-Lee Arendse. Doelskoppe: Morné Steyn (3).

Lions 13 (6): Drie: Ruben Schoeman. Doelskop: Tiaan Swanepoel. Strafdoele: Swanepoel (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.