Cooper sê nee vir BaaBaas

Quade Cooper laat waai met sy regtervoet. Foto: Patrick Hamilton/AFP.

Wel, dit is nou ietwat van ’n ongemaklike situasie.

Kort nadat die Barbarians-uitnodigingspan aangekondig het dat Quade Cooper deel van hul planne vir die vertoonwedstryd teen Samoa op Twickenham is, het die Wallabies-losskakel gesê dat hy nie deel van die storie is nie.

“Net ter inligting, ek het nooit ingestem om vir die Barbarians teen Samoa te speel nie. Ek is by die Kintetsu Liners [in Japan] gekontrakteer,” het Cooper getwiet.

Die gewilde uitnodigingspan het gister op sosiale media gesê dat Cooper saam met Steven Kitshoff en Frans Malherbe vir die kragmeting nadergetrek is.

Vroeër het Malcolm Marx en Duane Vermeulen ook ja gesê om in November teen die eilandmanne kragte te meet.

Australië se jaareindtoer begin op 23 Oktober teen Japan, terwyl hulle in November wedstryde teen Skotland, Engeland en Wallis speel.

Hoewel Samoa gister hulself aan ’n Europese toer weens reisregulasies onttrek het, is daar sprake dat hulle ’n Manu Samoa-span teen die BaaBaas in die veld sal stoot.

Cooper het verlede maand die wenstrafskop oor die dwarslat gejaag om die Springbokke met 28 – 26 te troef.

Die 33-jarige losskakel het toe 23 punte vir sy span aangeteken; glad nie sleg vir iemand wat laas in 2017 ’n toets vir die Wallabies gespeel het nie.

Kort ná sy heldedade is ’n petisie van stapel gestuur om hom ’n Australiese burger te maak.

Alex Hawke, Australië se minister van immigrasie, het duidelik na die publiek geluister en gesê dat regulasies aangepas sal word om talentvolle individue (soos Cooper) te akkommodeer.

Maroela Media het in Julie berig dat sy aansoek om Australiese burgerskap vir die vierde keer in ses jaar van die hand gewys is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.