Curriebeker-reeks: Soet vir Vrystaat, suur vir Griekwas

(Foto: Toyota Cheetahs/Twitter)

Die Vrystaat-Cheetahs kan vanjaar weer hul man in die Curriebeker-reeks staan, maar Griekwas het op die oog af (weer) nie genoeg diepte om teen die vier Suid-Afrikaanse franchise-spanne mee te ding wat hul CB-spanne met ervare spelers laai wanneer hulle die kans kry nie.

Dít is Vrydag in Kimberley onderstreep toe Vrystaat vanjaar se reeks ideaal begin het – ondanks ʼn gebrek aan dissipline – met ʼn bonuspuntoorwinning van 42-19 oor Griekwas nadat die Vrystaters rustyd reeds met 22-0 voorgeloop het.

Die ervaring van veral Frans Steyn en Ruan Pienaar het die deurslag gegee, want hulle het met hul ervaring, rustigheid en kalmte die grondslag gelê. Hulle het boonop met hul lang skoppe Griekwas onder druk geplaas.

Dan het die losvoorspelerkombinasie van Jeandré Rudolph, Friedle Olivier en Gideon van der Merwe nie net die stryd om die losbal gewen nie, maar ook daarin geslaag om Griekwas se besit stadig te maak. Hulle het ook met hul vurige dryfspel gate in Griekwas se verdediging geslaan en was die argitekte van Vrystaat se rolmaalbewegings.

Dit het daartoe gelei dat Griekwas se gevaarmanne, soos Rosko Specman en Luther Obi, baie min kanse op die aanval gekry het.

Die Vrystaat sal bekommerd wees oor hul dissipline, want hulle is 19 keer deur die skeidsregter Stephan Geldenhuys gestraf en het vier geel kaarte (Rynier Bernardo, Van der Merwe, Olivier en Daniel Kasende) gekry. Dit was boonop Kasende se tweede geel kaart vir ongeoorloofde spel wat uiteraard tot ʼn rooi kaart gelei het.

Maar steeds kon Griekwas dit nie uitbuit nie, veral omdat hulle nie genoeg besit op die voorvoet kon verower en daarin kon slaag om Vrystaat te wurg nie.

Griekwas het ook wedstrydoefening gekort en sal oor die volgende paar weke, net soos verlede seisoen toe hulle in die eindstryd teen die Pumas gespeel het, baie sterker na vore tree.

Puntemakers:

Vrystaat-Cheetahs: 42 (22): Drieë: Marnus van der Merwe, Gideon van der Merwe, Jeandré Rudolph, Friedle Olivier, Daniel Kasende. Doelskoppe: Ruan Pienaar (4). Strafdoele: Pienaar (3).

Griekwas 19 (0): Drieë: Gustav du Rand (2), Luther Obi. Doelskoppe: Lubabalo Dobela (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.