Curriebeker: Só staan sake

Argieffoto (Foto: Shutterstock)

As enigiemand ʼn paar weke gelede voorspel het dat die Haaie boaan die Curriebekerreeks sou wees met die Cheetahs op hul hakke en dat die Pumas, Blou Bulle en Griekwas sake om die twee ander plekke in die halfeindronde sal moet uitspook, sou daar ʼn ontkennende kopgeskud gewees het.

Maar nadat die Bulle Vrydagaand die Griffons op Loftus Versfeld met 64-33 geklop het en die Pumas Saterdagmiddag teen die Cheetahs in Mbombela met 14-29 verloor het sonder om ʼn bonuspunt te verower het, is die kaarte deurmekaar geskommel.

In Durban het die Haaie Saterdagaand tot die eerste plek ingeskuif toe hulle die Leeus met 29-21 geklop het. Dit beteken tuisveldvoordeel in die halfeind en as die Haaie aan hul eerste plek klou, ook ʼn eindstryd tuis.

Dit beteken ook die einde van die pad vir die Leeus. Hoewel hulle nog Vrydagmiddag teen die Griffons afsluit, is hul agterstand te groot om in te haal.

Die Cheetahs het die Pumas ʼn vierde opeenvolgende nederlaag toegedien toe hulle met 29-14 gewen het.

Die Cheetahs is in die tweede helfte oordonder en moes op krummels staatmaak, maar die Pumas was hul eie grootste vyand omdat hulle te oorywerig was.

Die ou vraagstuk of ʼn span pale toe moet skop wanneer hy die kans kry eerder as om die kantlyn op te soek in ʼn poging om ’n drie te druk, het ook by die Pumas gespook en uiteindelik het dit hulle geknak.

Hulle het seker by tien geleenthede hoek toe geskop, maar kon nie die Cheetahs se verdediging deurpriem nie.

Ja, suksesvolle rolmale was die afgelope paar seisoene deel van die Pumas se DNS, waarmee hulle talle wedstryde gewen het, maar wanneer dit die dag nie slaag nie, skakel maar oor na plan B.

Die Pumas het nog een kans om hul posisie te behou wanneer hulle Vrydag in Kimberley teen Griekwas speel.

Hulle verdien dit om verder te vorder, maar dit sal ʼn eindstryd in die kleine wees, want die agterdeur staan ook nog oop vir Griekwas.

En moenie van die Westelike Provinsie vergeet nie, wat ʼn heel, heel buitekans het om ook deur te dring, mits hulle die Haaie met ʼn bonuspunt kan klop en hoop die ander uitslae verloop in hul guns.

Puntemakers: Vrystaat-Cheetahs 29 (19): Drieë: Gideon van der Merwe, Rewan Kruger, Marnus van der Merwe, George Cronjé. Doelskoppe: Ruan Pienaar (3). Strafdoel: Pienaar.

Pumas 14 (7): Drieë: Corné Fourie, strafdrie. Doelskop: Tinus de Beer.

Leeus teen die Haaie

Op Kingspark was die Leeus reeds vroeg voor, maar hulle kon nie daarop voortbou nie. Namate die wedstryd gevorder het, het die Haaie al hoe meer besit gewen en die Leeus se doppie geklink.

Puntemakers: Haaie 29 (14): Drieë: Ntuthuko Mchunu (2), Fez Mbatha, Aphelele Fassi. Doelskoppe: Lionel Cronje (3). Strafdoel: Nevaldo Fleurs.

Leeus 21 (14): Drieë: Emmanuel Tshituka, Ruan Dreyer, Sanele Nohamba. Doelskoppe: Nohamba (3).

Curriebeker-puntestand

SpanWedstryde gespeelGewenVerloorGelykopPunteverskilLigapunte
Haaie1310309948
Cheetahs1384111146
Pumas1376013436
Bulle13760-1236
Griekwas13751-2535
WP13670332
Leeus13580-2131
Griffons131120-28910

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.