Curriebeker: Vrystaat-Cheetahs stamp Haaie uit pad

Rosko Specman (Foto: Rugby365)

Klop die Vrystaat-Cheetahs en wen dié seisoen se Curriebeker-reeks.

Dít is die boodskap wat die Cheetahs Saterdagmiddag in Bloemfontein die soveelste keer uitgestippel het toe hulle die Haaie met 44-15 geklop het.

Die Cheetahs was rustyd reeds met 24-10 voor en het hul negende opeenvolgende oorwinning behaal.

Die Cheetahs het die Haaie oorheers met hul ondernemende spel en vinnige tempo, terwyl die grondbeginsels in die vaste fasette nooit links laat lê is nie.

Die Cheetahs het hul eerste drie ná slegs drie minute gedruk nadat hulle die bal deur 11 fases, eers na regs, toe na links en weer na regs, geneem het en byna 20 keer gehanteer het.

Die Haaie, wat enduit probeer veg het, het nooit hiervan herstel nie.

Voeg daarby dat die Cheetahs die bal 14 keer by hul twee gevaarlike vleuels, Rosko Specman en Daniel Kasenda, laat uitkom het en dit is hoekom hulle ongetwyfeld bo die ander Curriebeker-spanne uittroon.

Dan het die terugkerende losskakel Siya Masuku ná sy besering (veral langs die ervare spelskeppers Frans Steyn en Ruan Pienaar) gedy.

Hy het gebreek, geskop en getêkkel.

Voeg daarby Specman se vermoë om met sy systappe en vaartversnellings byna enige teenstander op loop te jaag, Steyn se vermoë om die lyn reguit te maak en kanse te skep, asook die kalmte wat Pienaar bly uitstraal, dan het jy ’n wenresep.

Die Vrystaters het nou belangrike tuisveldvoordeel in die halfeindronde beklink.

As hulle voortbou op Saterdag se vertoning, is daar bitter min spanne, indien enige, wat in staat sal wees om hulle te klop.

Punte:

Vrystaat-Cheetahs 44 (24): Drieë: Victor Sekekete, Marnus van der Merwe, Cohen Jasper, Andisa Ntsila, Mihlali Mosi, Louis van der Westhuizen. Doelskoppe: Ruan Pienaar (3), Siya Masuku. Strafdoele: Pienaar, Masuku.

Haaie 15 (10): Drieë: Cameron Wright, Dan Jooste. Doelskop: Boeta Chamberlain. Strafdoel: Chamberlain.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.