Curriebeker: WP skakel Pumas se ligte af

(Foto: WP Rugby)

Wanneer dinge die dag op die rugbyveld skeefloop, gaan dit jou van al jou selfvertroue stroop.

Dit het die Pumas Vrydagaand in Mbombela agtergekom in hul Curriebeker-wedstryd teen die Westelike Provinsie (WP).

Die WP was die eerste keer sedert 15 Januarie vanjaar weer aan die wenkant toe dié span die Pumas met 23-17 geklop het. Hulle het die Pumas se ligte behoorlik gedoof om vir die uitspeelrondes te kwalifiseer.

Hulle het beter geskrum, beter verdedig, hul kanse benut en Tim Swiel het sy skopskoene aangehad.

Dinge het reeds voor die wedstryd skeef vir die Pumas begin trek toe Sebastian de Klerk en Tinus de Beer (albei griep) en Malembe Mpofu (besering) kort voor die wedstryd onttrek is.

Met die eerste skrum is die Pumas gestraf nadat die vaskop Ig Prinsloo op sy een knie beland nadat hy van sy stewelknoppies verloor het en geen vastrapplek kon kry nie.

Dan het die gewoonlik betroubare Eddie Fouché, wat van binnesenter na losskakel in De Beer se plek geskuif het, vier keer misgekorrel.

Die flank Daniel Maartens is ná ’n lynstaan oor die doellyn, maar die drie is nie toegeken nie omdat hy uitgetrap het.

Dieselfde het net voor rustyd gebeur toe die Puma-voorspelers oor die kantlyn gestamp is op pad doellyn toe.

Ná rustyd het die sooibrand voortgeduur toe die flank Angila Lungisa met ’n geel kaart gestraf is. Fouché se selfvertroue het nog minder geraak en krampe het verskeie spelers gekniehalter.

Boonop het die skeidsregter, Morné Ferreira, se fluitjie kort-kort geskril en het die aantal strafskoppe tot byna 30 aangegroei.

Om die kroon te span, het die stadionligte met net een minuut oor die gees gegee.

Was dit dalk beurtkrag, want dit was net ná 21:00, het die ondersteuners gewonder.

Ferreira het besluit om ’n paar minute te wag, want die Pumas het ’n laaste strafskop gekry en wou hoek toe mik om ’n drie te probeer druk om hul Curriebekerdrome te behou.

Maar steeds het sake vir die Pumas gelol, want hulle kon nie deur die WP se hegte verdediging priem nie.

Vir die Pumas is dit heel waarskynlik verby om nog in die halfeindronde te speel, terwyl Kaapse ondersteuners sal vra hoekom die WP so lank moes wag om weer aan te skakel.

Punte:

Pumas 17 (10):

Drieë: Eduan Swart, Corné Fourie, Chriswill September. Doelskop: Eddie Fouché.

Westelike Provinsie 23 (20):

Drieë: Godlen Masimla, Neethling Fouché, Sergeal Peterson. Doelskop: Tim Swiel. Strafdoele: Swiel (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.