Die dag toe Oom Hugh nie kon tande borsel nie

Dis geen wonder nie dat Suid-Afrikaanse rugbyondersteuners ʼn sagte plekkie vir Walliese rugby het.

Dis hoekom daar sedert 1906 reeds 33 keer teen Wallis gespeel is en hoekom daar op 2 Junie ʼn toets teen die Rooi Drake in Washington DC gespeel word. En dis hoekom die Springbokke aan die einde van die jaar wéér teen Wallis speel.

Die Walliesers is die sout van die aarde. Hulle sing hul probleme weg en (behalwe nou hul Nieu-Seelandse brombeerafrigter, Warren Gatland) maak hulle nie maklik verskonings nie.

Dít het die Cardiff Blues opnuut bewys toe dit hulle verlede week meer as 50 uur geneem het om in Bloemfontein uit te kom vir Saterdagaand se Pro14-wedstryd teen die Cheetahs.

Die span het reeds Woensdagoggend uit Cardiff vertrek en na Londen gereis waar hulle die vlug na Suid-Afrika sou haal.

Die vlug is vertraag en dit het tot die een krisis ná die ander gelei, want die span het eers Vrydagmiddag in Bloemfontein aangekom nadat daar inderhaas ʼn huurvlug gereël is. Hul bagasie het eers Saterdagoggend in die Rosestad opgedaag.

Dit was ʼn wedstryd wat die span moes wen om ʼn kans te staan om dalk tot die kwarteindronde deur te dring, maar Cardiff het in bykomende tyd oor die laaste hoë hekkie gestruikel nadat ʼn strafdrie aan die Cheetahs toegeken is en die tuisspan met 29-27 geseëvier het.

Het die spelers daaroor gekla? Nee.

Die Cardiff Blues speel Saterdag in Port Elizabeth teen die Southern Kings en het vandeesweek darem ʼn geleentheid gehad om ook te ontspan. Dit het tot ʼn wonderlike gebaar deur die spelers gelei, waaroor daar op WalesOnline berig is.

Die spelers het hul kospakkies (hulle was uit op ʼn uitstappie) aan van die hotel-werkers gegee het nadat hulle agtergekom het dat van hul gesinne tuis nie altyd kos op die tafel het nie.

♦ Dis ʼn wonderlike ervaring om deur Wallis te toer, waar rugby in Cardiff, Swansea, Newport en Llanelli koning is.

Maar jy moet daar ook maar in jou spore trap en oor jy skouer loer, soos die ervare televisiekommentator Hugh Bladen dit agterkom het.

Oom Hugh, soos hy algemeen bekend staan, het een oggend vergeet om sy tandeborsel en tandepasta in te pak en dit het in sy hotelkamer agtergebly.

Hy het ʼn nuwe een in Cardiff aangeskaf en soos dit sy gebruik was, het hy eers ʼn paar rondtes gekoop voordat hy kamer toe is, ook vir ʼn Walliese ondersteuner wat ongevraag nader gestaan het.

Die man, wat nie tande gehad het nie, het van oor tot oor geglimlag en sommer nog enetjie met eish op Bladen se rekening bestel.

Toe Bladen daarna na sy kamer verkas het, was die ondersteuner, die tandeborsel én die tandepasta skoonveld.

Tot vandag toe wonder ons namens wie hy dit gegaps het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae