Dobson krap kop oor swak eerste helfte

(Foto: GB Jordaan)

Swak dissipline in die eerste helfte het waarskynlik die Stormers-skip die afgelope naweek op Loftus Versfeld gesink.

Die Bulls het die Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd met 40–22 gewen om die Kapenaars vir die eerste keer in agt probeerslae te klop.

“As ʼn mens na ons dissipline in die eerste halfuur kyk, kan jy tereg sê dat dit waarskynlik een van ons swakste vertonings nóg was. Ná 12 minute het ons reeds vyf strafskoppe afgestaan,” het John Dobson gesê.

Die Bulls het binne ʼn japtrap ʼn voorsprong van 19–5 geniet en volgens die Stormers-afrigter kan ʼn span net nie bekostig om ʼn wedstryd só teen die Pretorianers te begin nie.

“Jy kan nie só teen ʼn goeie span soos die Bulls speel nie. Ek weet glad nie waar dit skielik vandaan gekom het nie, maar dit was glad nie goed nie.”

Die Stormers kon weliswaar met ʼn paar drieë net voor rustyd terugslaan, maar enige sprake van ʼn terugvegpoging later in die wedstryd is deur ongedwonge foute gekelder.

“Ek het nog nooit gesien dat dinge so erg skeefloop nie. Ons het onder meer die bal direk uitgeskop, die stryd om die bal in die lug verloor en met ons afskopwerk gesukkel. Dit was omtrent vir jou ʼn rillervertoning.”

Daar was wel ʼn paar ligpunte.

“Ek dink Warrick Gelant het skitterend gespeel, terwyl Manie [Libbok] en Damian [Willemse] ook goed was. In die tweede helfte het ons goeie momentum opgebou, net om alles weer prys te gee met ʼn onnodige strafskop teen ons.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

piet ·

Die waarheid is dat die Stormers al die hele seisoen sukkel. Kyk net waar sit hulle op die punteleer. Daar is ‘n paar goeie individuele vertonings maar die spelers speel nie goed as ‘n span saam nie.

SjN ·

Dobson, bly hy erken die swak vertoning en blameer nie weer die skeidsregter nie, jou span het nie opgedaag nie, swak ingooiwerk in lynstane, swak besluite om kantlyn toe te skop en nie eerder pale te skop vir n moontlike 3 punte nie, Libbok was miskien goed in jou oe, maar ongelukkig nie goed genoeg om die telling beter te laat vertoon nie.

Kuver ·

SJN hy is nie die bull ondersteuners wat altyd die ref beskuldig nie

Manie ·

Dweba se swak ingooiwerk by die lynstane, was nog altyd ‘n probleem en dit sou die Stormers die een of ander tyd gebyt het. Hulle besef ook nie hoeveel hulle vir Ruhan Nel mis nie, hy organiseer die middelveld. Jy speel ook nie senters uit posisie nie, Dan du Plessis is ‘n binnesenter, nie ‘n buitesenter nie. Hulle het egter nie die eerste helfte goed gespeel nie, klaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.