Doring Daantjie het nie sy gelyke nie

gerber.jpeg

‘n Jong Danie Gerber in aksie (foto: independent.co.uk)

Daar word gewoonlik tot laataand gekibbel wanneer die beste Springbokspan van alle tye bespreek word, behalwe as dit by senter, losskakel en slot kom.

Dan is daar eenparigheid: Danie Gerber, Naas Botha en Frik du Preez.

Drie regmerkies; skink nog enetjie en nou volg die res.

Gerber is opnuut in die nuus omdat hy die koronavirus opgedoen het en tuis aansterk.

Almal hoop dat Doring Daantjie (van Despatch), soos hy allerweë bekend staan, ook dié stryd sal oorkom.

Ek was bevoorreg om hom reeds vir die Oostelike Provinsie se Cravenweekspan te kon sien speel.

Hy was een van daardie spelers wat enige ondersteuner die hoedervel gegee het met sy vaartversnelling, systappe, lyfswaaie en vermoë om kanse vir ander spelers te skep. Ons het een jaar vir die Paasnaweek spesiaal na Durban gery (en in die Rydal Mount gebly) net om Gerber en sy onbesonge Despatch-spanmaats in aksie teen Tukkies en Maties te sien – en hoe hy byna manalleen die grotes laat tuimel het.

Dok Danie Craven en Oubaas Mark (die oudrugbybaas Mark Markotter) het hulle voetballers genoem, die ruiters van die wind.

Gerber het sy Springbokdebuut in 1980 teen die Suid-Amerikaanse Jaguares in Montevideo gemaak en die eerste van sy 19 drieë in 24 toetse gedruk. Hy het ook drieë teen Engeland (4), Frankryk (2), Ierland (2), Nieu-Seeland (2), die Nieu-Seelandse Kavaliers (1) en die Suid-Amerikaners (8) gedruk.

Gaan kyk maar na die hoogtepunte daarvan, dis lipaflek-lekker.

Van die grotes van wêreldrugby, soos Serge Blanco, Roland Bertranne, Walter Little, Frank Bunce en ook Dusty Hare (hy was eintlik nie een van die grotes nie), wonder steeds aan watter kant van hulle Gerber verby is.

Gerber is in 2007 in die Internasionale Rugbyraad se Heldesaal opgeneem, ʼn eerbewys wat hy jare lank verdien het.

Gerber, ʼn regte platjie, is altyd bereid om ʼn geselsie aan te knoop, ʼn handtekening uit te deel.

Anders as ander spelers was hy wêreldheen gewild: van Desptach af tot by Loftus, Nuweland, Ellispark, Twickenham, Parc de Princes en Eden Park.

Hy het immers 114 keer vir die Oostelike Provinsie gespeel, 40 keer vir Westelike Provinsie en 24 wedstryde vir die Vrystaat.

Hy het destyds vir die ou Bantoe-administrasie in Port Elizabeth gewerk toe ons een oggend ʼn onderhoud met hom wou voer. Op sy lessenaar het ʼn pen en stuk papier en die oggend se Oosterlig en EP Herald (koerante) gelê en die staatsdiens se halfvol glaswaterbottel.

“Meneer, as julle vir Danie soek, hy is by die Boet [Erasmus-stadion],” het een van sy kollegas gesê.

Hy was op die rugbyveld waar hy op sy gelukkigste was, besig om tussen keëls rond te hardloop, om die duiksakke voos te duik.

Maar soos ʼn tipies beskeie plattelandse seun het hy alles net daar gestaak en met ons kom gesels.

Die sout van die aarde, ʼn rugbyspeler in murg en been, die beste nr. 13-senter wat Suid-Afrika, en dalk nog die wêreld, opgelewer het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sean ·

Sterkte oom Danie Ek glo hierdie verkouetjie is sommer gou verby Die beskermde hand van God omvou oom

Michael 1 ·

Hy was n yster in sy tyd so ook,Marten Knoetze,Japie Mulder,Brendan Venter,Heinrich Fulls,fafa knoetze,Hennie le Roux.

Maria M S ·

Spoedige beterskap Danie, jy is een van my grootste rugbyhelde. Jy en Tiaan Strauss is my gunstelinge. Albei plattelandse “boykies”.

Dubbelloop ·

Wat hier oor Danie geskryf word is baie waar. Ek het rugby gevolg, veral agterspel. Ek was jonk toe Mannetjies Roux gespeel het, tot nou toe. Ek is 66jr oud. My opinie, daar was nie ń beter senter, no. 13 as Danie Gerber nie. Van vvor sy tyd en tot vandag toe.
Sterkte met jou herstel vd virus. Ons bid vir jou Danie.
My naamgenoot ook nog.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.