Brakpan en sy ‘Skot’, Ian Oosthuizen, het elk `n driekuns by vanjaar se prysuitdelings behaal.
Op die Valke-rugbyunie (VRU) se prysuitdeling het die Panne nie net die beker as wenner van die bond se Peregrineliga verower nie, maar ook die Valke-skeidsregtersvereniging se beker vir die beste span op die veld, en die beker vir die meeste drieë die afgelope seisoen (98) ingepalm.
Oosthuizen is op sy beurt op Brakpan se prysuitdeling as sportman van die jaar, die spelers se speler van die jaar en die beste voorspeler bekroon.
Hy is tans in Skotland en sy pa, Coenraad, het die bekers namens hom ontvang.
Oosthuizen jr het die afgelope Saterdag met puik spel sy buiging vir die Skotse klub Selkirk gemaak, waar hy die komende ses maande kragtens `n uitruilooreenkoms sal speel nadat hy as die beste voorspeler in die afgelope reeks om die Goue Beker aangewys is.
Gido Horn en Armand Jordaan het ook elkeen twee pryse gewen. Horn was die agterspeler van die jaar en het die meeste punte (145) aangeteken; Jordaan is as die junior sportman van die jaar en die belowendste speler aangewys.
Jaco Lotter is die losvoorspeler van die jaar; Theo Becker die lojaalste en toegewydste speler; en Rikie Menses die stoutste speler.