Drienasies: All Blacks betaal duur prys teen Wallabies

Foto: Wallabies/Facebook

Daar is sekere rugbyspelers wat baie waarde tot enige span kan voeg, maar hulle beweeg altyd op dun ys.

Die All Black-slot Scott Barrett is een van hulle, want Saterdag in Brisbane het sy dissipline hom weer in die steek gelaat en sy ongeoorloofde spel die All Blacks die duur prys laat betaal nadat die Wallabies die tweede Drienasiestoets met 24 – 22 gewen het.

Onthou u nog 2019 toe Barrett in Perth slegs die vierde All Black geword het wat met ʼn rooikaart afgestuur is nadat hy Michael Hooper met die elmboog bygekom het? Die Wallabies het voortgegaan en die toets met 47 – 26 gewen.

Ja, Saterdag vroeg in die eerste helfte het die All Blacks al ʼn rooikaart gekry nadat die stut Ofa Tu’ungafasi ʼn rooikaart gekry het vir ʼn gevaarlike duikslag.

Die Wallabies se flank Lachlan Swinton het in sy debuuttoets ook ʼn rooikaart vir ʼn soortgelyke duikslag ontvang en kort hierna het die vleuel Marika Koroibete met ʼn geelkaart gevolg nadat hy by ʼn losskrum van sy voete af was.

Maar toe Barrett in die 69ste minuut die bal by ʼn losskrum uit die Wallaby-skrumskakel Nick White se hande geklap het terwyl hy (Barrett) op die grond gelê het, was die skrif aan die muur.

Jy doen dit nie wanneer jou span op die agtervoet is nie, jy doen dit nie wanneer die skeidsregter en TV-skeidsregter jou met arendsoë dophou nie.

Om die laaste tien minute met net 13 man te speel teen ’n span wat ʼn paar vars plaasvervangers opgestuur het, was vir moeilikheid soek, al speel jy ook al vir die All Blacks.

Maar dit bly ʼn raaisel hoe die Wallabies wat hul laaste twee toetse (teen dieselfde span) met 7 – 27 en 5 – 43 verloor het, so kon terugveg.

Was die All Blacks te oorgerus? Was hulle te arrogant? Vou hulle maar soos enige span wanneer hulle onder druk geplaas word? Was dit die nagevolge van die Covid-19-pandemie wat alles deurmekaar gekrap het en die spelers se denkpatrone verander het?

Puntemakers:

Australië 24 (8): Drieë: Tom Wright, Taniela Tupou. Doelskop: Reece Hodge. Strafdoele: Hodge (4).

Nieu-Seeland 22 (8): Drieë: Rieko Ioane, Codie Taylor, Tupou Vaa’i. Doelskoppe: Jordie Barrett (2). Strafdoel: Jordie Barrett.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mad Mike die Rhodesiër ·

Pasop, ‘n vasgekeerde kangeroe of volstruis skop baie hard! LOL!

MakersMark ·

Gelukkig vir die vasgekeerde kiwi of kangaroo het hul nie teen die bokke gespeel nie dink albei sou verloor het die bokke se brutale voorspelerspel en verdediging sou te veel gewees het. Nie die Aussies of Kiwi’s het baie indrukwekkend gelyk nie.

Frans ·

Die Skeidsregter en sy helpers was nie altyd konsekwent in hul optrede nie.Die probleem het al vroeg in die wedstryd begin toe Beauden Barrett laat van balans gestamp ,deur die Ausie agsteman is nadat hy probeer het om sy skop oor die Walabies op te volg.
Wat die eerste rooikaart betref=ja dit was gevaarlik-maar die Ausiespeler het met sy voorarm gelei,wat ook ontoelaatbaar is.Nie die skeidsregter of sy helpers het teen dit opgetree nie.Dus ‘n rooikaart vir die Kiwivoorry maar ‘n strafskop teen die Ausiespeler.
NZ-het heewat diepte maar dit is duidelik dat Beauden Barrett nie heeltemal op sy gemak en selfs effens verroes op 10 gelyk en die agterlyn nooit teen die opskietverdediging aan die gang kon kom nie.
Of die Ausies die vertoning kan herhaal in die ‘Tri-nstions is ‘n ander saak/

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.