Du Toit rek puntevoorsprong in Kanada

Guiseppe du Toit, wat in Johannesburg gebore is, het Vrydag sy voorsprong as puntemaker in die Kanadese Rugbykampioenskap (CRC) vergroot.

Hy het 12 punte by die 14 van die eerste wedstryd vanjaar tussen sy span, die British Columbia Bears, en die Prairie Wolf Pack, gevoeg, om sy totaal op 26 te staan te bring.

Jake Bentley, die reeks se voorste driedrukker (drie), is met 15 punte tweede op die lys.

Die Bears, die verdedigende kampioen, het die weeromstryd in Vancouver oortuigend met 37-20 gewen (rustyd 29-3), nadat hy die vorige kragmeting teen die prairie-span in Calgary met 24-27 verloor het.

Die verloordersbonuspunt, wat die span van Brits-Columbië in die eerste botsing verdien het, plaas hom voor in die reeks.

Du Toit (13 toetse vir Kanada) is vandeesweek ingesluit in ʼn Kanadese Uitnodigingspan wat aanstaande week Frankryk toe vertrek om teen die Top14-kampioen, Castres Olimpique, en die klub Clermont Auvergne (9de uit 14 in die afgelope seisoen) kragte te meet. Hy sal dus ʼn deel van die CRC misloop.

Die toer dien onder meer ter voorbereiding vir Kanada se deelname aan die vierhoekige heruitdun om die laaste vakature vir aanstaande jaar se toernooi om die Wêreldbeker te vul.

In nóg ʼn CRC-wedstryd het The Quebec-Atlantic Rock verras deur die Ontario Blues met 34-22 te klop (rustyd 24-22).

The Rock is saamgestel uit spelers van die Oostelike provinsies Quebec (agt), Newfoundland (agt), Nova Scotia (vyf), Prins Eduard-eiland (twee) en Nieu-Brunswyk (een), maar sluit ook drie van Ontario in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.