Dubbelsyfers vir twee SA skoppers in Frankryk

Twee skoppers uit Suid-Afrika het Saterdag dubbelsyfers met die skoen in die Franse Top14-liga behaal.

Die losskakels Willie du Plessis en Morné Steyn het onderskeidelik 14 en 12 punte vir Montpellier Herault en Stade Français aangeteken.

Du Plessis, wat vir die Cheetahs Superrugby gespeel het, het in Montpellier se sege van 54-14 oor Grenoble met sewe doelskoppe geslaag.

Die Springbokhaker Bismarck du Plessis het ʼn drie vir die wenspan gedruk.
Steyn se bydrae, in die kragmeting teen Bayonne, wat Stade met 32-16 gewen het, het uit drie doelskoppe en twee strafdoele bestaan.

Stade se agsteman, Jono Ross, ʼn gewese Bulls-kaptein, is in dieselfde wedstryd met ʼn geel kaart gestraf.

Ruhan Hauman, die agsteman van Brive, het ʼn drie in die tweede minuut van sy span se sege van 26-21 oor Clermont Auvergne gedruk.

Hy het o.19-rugby vir die Boland gespeel.

Franse Pro D2-liga

Danré Gerber, ʼn gewese Bolandse senter, het Vrydag twee doelskoppe tot Mont de Marsan se sege van 56-14 oor Bourgoin in die Franse Pro D2-liga behaal.

Edwin Hewitt, slot van Biarritz, het ʼn geel kaart op die lyf geloop in sy span se oorwinning van 16-13 oor Oyonnax in dieselfde liga.

Hewitt het Superrugby vir die Sharks gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.