Duisende toeskouers by SA A-wedstryd verwag

Marco van Staden is in die opdrafspan teen die Bristol Bears. Foto: GB Jordaan.

Daar word 26 387 toeskouers in die Ashton Gate-stadion verwag wanneer die SA A-span môre teen die Bristol Bears speel.

Dit is die meeste toeskouers nóg sedert die stadion ʼn nuwe baadjie aangetrek het. En die Suid-Afrikaners sal hoop om goeie rugby op te dis, veral nadat hulle verlede week in Cork maar sleg tweede gekom het teen Munster.

Teen die Iere was die span se strukture glad nie in plek nie, maar Grant Williams en die res van die plaasvervangersbank kon darem vir ʼn bietjie momentum sorg.

Die Sharks-skrumskakel is juis nou in die opdrafspan en hy sal Sacha Feinberg-Mngomezulu se skakelmaat vir die Bristol-kragmeting wees.

“Dit sal die eerste keer wees dat ek en Sacha saamspeel, maar dit is ʼn opwindende geleentheid. Ons sal by die toestande moet aanpas en ons beste gee,” het Williams gesê.

Volgens Williams skroom die Bristol-spelers nie om met die bal te hardloop nie.

“Hulle speel opwindende rugby en dit is van kardinale belang dat ons goeie gebiedsvoordeel geniet en ons geleenthede benut om punte aan te teken.”

Intussen meen Mzwandile Stick dat die Suid-Afrikaners beter as in hul eerste toerwedstryd sal vertoon.

“Hierdie is ’n baie talentvolle groep spelers en hulle het nou langer tyd gehad om gewoond te raak aan mekaar se spel. Ons glo dat hierdie verstandhouding ook op die speelveld gesien sal word.”

Die wedstryd begin om 21:30 en dit sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

SA A: Gianni Lombard (heelagter), Suleiman Hartzenberg (regtervleuel), Henco van Wyk (buitesenter), Cornal Hendricks (binnesenter), Leolin Zas (linkervleuel), Sacha Feinberg-Mngomezulu (losskakel), Grant Williams (skrumskakel), Jean-Luc du Preez (agtsteman), Elrigh Louw (flank), Marco van Staden (flank), Ruan Nortjé (slot), Jason Jenkins (slot), Thomas du Toit (kaptein en stut), André-Hugo Venter (haker) en Ntuthuko Mchunu (stut). Plaasvervangers: JJ Kotze, Simphiwe Matanzima, Mornay Smith, Dan du Preez, Sikhumbuzo Notshe, Phepsi Buthelezi, Sanele Nohamba en Johan Goosen.

Bristol Bears: Luke Morahan (heelagter), Deago Bailey (regtervleuel), Piers O’ Connor (buitesenter), Sam Bedlow (binnesenter), Gabriel Ibitoye (linkervleuel), Callum Sheedy (losskakel), Will Porter (skrumskakel), Fitz Harding (agtsteman), Jake Heenan (flank), Magnus Bradbury (flank), Joe Batley (slot), Joe Joyce (kaptein en slot), Max Lahiff (stut), Bryan Byrne (haker) en Yann Thomas (stut). Plaasvervangers: Harry Thacker, Jake Woolmore, Jonathan Benz-Salomon, John Hawkins, Sam Lewis, Andy Uren, Joe Jenkins en Rich Lane.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.