Dupont se gebreekte wangbeen geopereer

Antoine Dupont ontvang mediese behandeling op die veld. (Foto: Christophe Simon/AFP)

Frankryk se kaptein Antoine Dupont het ʼn operasie aan sy gebreekte wangbeen ondergaan en sal “oor ʼn paar dae” na die groep terugkeer, het die Franse Rugbyfederasie Saterdag gesê.

Dit is egter nie duidelik wanneer Dupont na die veld sal kan terugkeer en wat dit vir sy Wêreldbeker-toernooi inhou nie.

Dupont het die besering opgedoen nadat hy en Johan Deysel, Namibië se kaptein, hard teen mekaar  koppe gestamp het in Frankryk se oorwinning van 96-0.

Die 26-jarige skrumskakel, wat in 2021 Wêreldspeler van die jaar was, is Vrydag in Toulouse geopereer.

“Ek kan nie wag om weer by die span aan te sluit nie,” het Dupont op sosiale media gesê. Frankryk se laaste poelwedstryd is op 6 Oktober teen Italië met ʼn potensiële kwarteindstryd teen die huidige kampioen, Suid-Afrika, of Ierland.

Frankryk se verdedigingsafrigter, Shaun Edwards, het Vrydag gesê dit is ʼn baie pynlike besering, maar ʼn gebreekte wangbeen is makliker om te bestuur as ʼn gebreekte kakebeen.

ʼn Lang afwesigheid vir Dupont sal ʼn ernstige knou wees vir Frankryk se hoop om die Wêreldbeker vir die eerste keer te wen.

Deysel het aanvanklik ʼn geel kaart vir die gevaarlike plettervat gekry en dit is later na ʼn rooi kaart opgegradeer.

Deysel het intussen om verskoning gevra. “Ek wil graag my beste wense aan Antoine Dupont oordra. Dit is duidelik dat ek geen kwade bedoelings gehad het nie. Alles het baie vinnig gebeur en ek kon nie gou genoeg my kop uit die pad kry nie, wat tot ʼn kopbotsing gelei het,” het hy gesê.

“Ek ken die reëls en het onmiddellik geweet ek was verkeerd. Ek het dadelik ná die wedstryd met Fabien Galthie [Frankryk se afrigter] gepraat en my beste wense en verskoning vir Antoine gestuur, persoonlik én via die Franse span se dokter. Hy is ʼn wonderlike speler en persoon en ek wens hom ʼn spoedige herstel toe.”

(Foto: officialnamibiarugby/Instagram)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.