Eddie hou Rose terug, meen sir Clive

Eddie Jones saam met die Engelse losskakel, George Ford. Foto: Thomas Samson/AFP.

Genoeg is genoeg, sê sir Clive Woodward nadat die Barbarians-rugbyspan vir Engeland op Twickenham verrinneweer het.

Die Barbarians, wat vir ’n groot gedeelte van die wedstryd met 14 spelers moes klaarkom, het agt drieë gedruk om die tuisspan met 52 – 21 te oorrompel.

Toegegee, dit was seker nie die Engelsmanne se sterkste span nie (hulle was sonder hul Leicester- en Saracens-spelers), maar die drag slae is genoeg om iemand soos Woodward aan sy oggendtee te laat stik.

“Om 50 punte teen ’n span met net 14 spelers af te staan is reeds erg genoeg, maar die Barbarians se uitspattige toertjies en feesviering op Twickenham was net een te veel. Sou Nieu-Seeland of Suid-Afrika toegelaat het dat só iets in Auckland of Pretoria gebeur het?” het Woodward in sy Daily Mail-rubriek gevra.

Volgens Woodward is ’n senior amptenaar – ’n direkteur van rugby as jy wil – nodig om Engelse rugby reg te ruk.

“Om vir iemand soos Eddie Jones die sleutels tot Twickenham te gee hou Engeland op soveel maniere terug.”

Woodward was terselfdertyd ook skepties oor die beleërde afrigter se spelergroep vir die Rose se komende toer na Australië.

“Ek het van die dinge gelees wat hy in die media gesê het; onder meer dat die span uit ’n goeie kombinasie van jong en ervare spelers bestaan. Dit is bog – jy moet jou beste spelers kies en basta met die res.”

Woodward meen dat om die sterkste spelers in die land te kies niks met ouderdom of ervaring te doen het nie.

“Ons speel tans tweede viool teen spanne van die Suidelike Halfrond en nou het Frankryk en Ierland ons ook boonop verbygesteek. Ons kan dinge regruk, maar dan moet al die onsinnige praatjies in die media einde kry. Om te wen is al wat saak maak en Jones moet daarvolgens beoordeel word.”

Woodward het vantevore ook al die Springbokke en Rassie Erasmus in sy visier gehad.

“Ek het verlede week in afgryse na die vervelige rugby gekyk wat die Springbokke teen Australië opgedis het. Rugby is nie bedoel om op só ’n manier gespeel te word nie en ek is bly dat Australië gewen het,” het hy verlede jaar geskryf.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.