Engeland skakel oor na hoogste rat teen Chili

(Foto: Sameer Al-Doumy/AFP)

Dit sal baie Suid-Afrikaners in hul graanvlokkies laat stik … maar Engeland se rugbyspan kan baie maklik die halfeindronde van vanjaar se Wêreldbeker-toernooi haal en dalk ook nog tot die eindstryd deurdring.

Engeland het Saterdagmiddag in die Stade Pierre-Mauroy in Lille ‘n wegholoorwinning van 71-0 oor Chili behaal en het na alle waarskynlikheid reeds vir die uitkloprondes van vanjaar se toernooi gekwalifiseer.

Ná hul bonuspuntsege, Engeland was rustyd met 31-0 voor, het die Rose nou 14 ligapunte en is hulle loshande voor Samoa en Japan (albei 5 punte) en Argentinië (4 punte).

Dit beteken dat Engeland eerste in Groep D sal eindig en in die kwarteindronde teen Wallis, Australië of Fidji sal speel.

Chili het Saterdag in die eerste 18 minute bygehou en die Engelse ‘n hele paar keer laat skarrel, maar toe die damwal eers gebreek het, kon die gate nie meer toegestop word nie.

Vir die Engelse was die terugkeer van die losskakel en kaptein, Owen Farrell, ná sy lank skorsing een van die hoogtepunte. Hy was nie onder druk nie en was die argitek van die Engelse aanvalle.

Hy het in die tweede helfte binnesenter toe geskuif toe George Ford as losskakel opgestuur is. Dit begin al hoe meer lyk of dit die patroon gaan wees wat Engeland sal volg. Engeland speel basiese patroonrugby, soms vervelig, maar doeltreffend.

Toe sy fisieke voorspelers eers oorheers het, het Marcus Smith (heelagter), Henry Arundell (vleuel) en die senters Elliot Daly en Ollie Lawrence gedy.

Voorlangs het die agtsteman Billy Vunipola elke keer oor die voordeellyn gekom en met die slotte Dave Ribbans en George Martin en later ook Ollie Cheshum wat oorheers het, het Chili geen kans gestaan nie.

Arundell het met sy vyf drieë binne trefafstand van die WB-rekord van die All Black Marc Ellis se ses drieë in 1995 teen Japan gekruip, maar hy kon nie daarby uitkom nie.

Hy het hom nogtans by die oud-Wallaby heelagter Chris Latham en die Engelse flank Josh Lewsey aangesluit wat ook vyf drieë in ‘n wedstryd in die toernooi van 2003 gedruk het.

Farrell, wag met agt doelskoppe geslaag het, is nou ook net een punt agter Jonny Wilkinson (1 179) as Engeland se voorste puntemaker van alle tye.

Puntemakers:

Engeland 71 (31): Drieë: Henry Arundell (5), Theo Dan (2), Bevan Rodd, Marcus Smith (2), Jack Willis. Doelskoppe: Owen Farrell (8).

Chili 0

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.