Enkelbesering pootjie Van Poortvliet se wêreldbekerhoop

Jack van Poortvliet het die enkelbesering tydens Saterdag se oefenwedstryd teen Wallis op Twickenham in Engeland opgedoen (Foto: Ben Stansall/AFP)

Engeland se skrumskakel, Jack van Poortvliet, sal volgende maand die Wêreldbeker-rugbytoernooi weens ’n enkelbesering misloop.

Van Poortvliet het die besering tydens Saterdag se oefenwedstryd teen Wallis op Twickenham in Engeland opgedoen. Hy sal nou ’n enkeloperasie moet ondergaan.

Die 22-jarige Leicester-agterspeler sal deur Northampton se Alex Mitchell (26) vervang word.

“Dit is regtig slegte nuus vir Jack en ons stuur vir hom ons beste wense vir ʼn vinnige en suksesvolle herstel,” het Engeland se afrigter, Steve Borthwick, gesê.

Alex Mitchell sluit by Ben Youngs en Danny Care aan as Borthwick se skrumskakel-opsies.

Mitchell is nie vir die oorspronklike span gekies nie, ten spyte van vier indrukwekkende verskynings wat hy as plaasvervanger tydens vanjaar se Sesnasies-kampioenskap gemaak het.

Borthwick moet ook nog duidelikheid kry oor die stand van sake met die Engelse kaptein, Owen Farrell, se skorsing hangende ’n dissiplinêre verhoor.

Die kaptein van Engeland was Saterdag op Twickenham aanvanklik met ʼn geel kaart van die veld gestuur omdat hy kontak met Taine Basham se kop gemaak het.

Ingevolge nuwe regulasies kan ʼn uitwyspaneel – sommer só terwyl die spel nog aan die gang is – besluit of ʼn oortreding nie ʼn groter straf verdien nie en ʼn rooi kaart is terstond in Farrell se rigting geswaai.

Die Engelse kaptein moet nou voor ʼn tugkomitee verskyn wat Dinsdag begin. Daar sal duidelikheid oor die tydperk van Farrell se skorsing gegee word.

Farrell is in Januarie vir ʼn soortgelyke oortreding vir drie wedstryde geskors en sy swak dissiplinêre rekord kan teen hom begin tel.

Engeland sal Saterdag teen Ierland te staan kom en dan die volgende naweek hul Wêreldbeker-opwarmingswedstryde teen Fidji voltooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.