Gewoonteoortreder Farrell weer in die sop

Engeland se Owen Farrell. (Foto: Henry Nicholls/AFP)

Daar is ʼn moontlikheid dat Owen Farrell die aanvang van Engeland se Wêreldbeker-veldtog kan misloop nadat sy têkkeltegniek weer onder die vergrootglas is.

Die Engeland-kaptein was Saterdag op Twickenham aanvanklik met ʼn geelkaart van die veld gestuur omdat hy kontak met Taine Basham se kop gemaak het.

Maar onder nuwe regulasies kan ʼn uitwyspaneel – sommer so terwyl die spel nog aan die gang is – besluit of ʼn oortreding nie ʼn groter straf verdien nie en ʼn rooikaart is terstond in Farrell se rigting geswaai.

Engeland, wat in ʼn stadium met slegs 12 spelers op die veld moes klaarkom, kon egter ʼn ietwat lendelam haas uit die hoed pluk om vir Wallis met 19 – 17 te klop.

Die Rose speel nog twee opwarmingswedstryde – teen Fidji en Ierland – voordat hul Wêreldbeker-veldtog amptelik op 9 September teen Argentinië in Marseille begin.

Farrell is in Januarie vir ʼn soortgelyke oortreding vir drie wedstryde geskors en sy swak dissiplinêre rekord kan teen hom begin tel.

“Ons sal moet wag en kyk wat die tugkomitee se bevinding is. Dit sal verkeerd wees om nou oor so iets te bespiegel,” het Steve Borthwick, Rose-hoofafrigter, gesê.

Op sy beurt meen Wallis se Warren Gatland dat die wedstrydbeamptes die regte ding gedoen het om Farrell se geelkaart met ʼn rooie te verruil.

“Dit was die korrekte besluit. Ek hoop vir Owen se onthalwe dat hy nie te lank geskors word nie; die spel het ʼn speler soos hy nodig. Maar as ʼn mens na sy vorige oortredings kyk, is ek nie heeltemal seker hoe alles gaan uitdraai nie,” het Gatland gesê.

Dit is nie die eerste keer dat Farrell se têkkeltegniek bevraagteken word nie.

Hy het in 2018 vir André Esterhuizen blatant met die skouer op Twickenham geloop sonder om sy arms te gebruik, terwyl hy in 2020 die 18-jarige Charlie Atkinson op ʼn uiters gevaarlike wyse platgetrek het.

Die Atkinson-plettervat het meer gepas in die rofstoeiwêreld as op ʼn rugbyveld gelyk en die WWE-ster John Bradshaw Layfield het juis kort ná die voorval op Twitter gesê dat Farrell met ope arms in die WWE verwelkom sou word.

“Hy probeer altyd om iemand hard te têkkel en hy doen dit gereeld hoog,” was Andy Goode, gewese Engeland-losskakel, se kommentaar.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.