Ervare Wessels gereed vir nuwe Saru-uitdaging

Dave Wessels is gereed vir sy nuwe pos in Suid-Afrikaanse rugby. (Foto: X/Springbokke)

Dave Wessels is opgewonde oor sy nuwe pos in Suid-Afrikaanse rugby.

Die 41-jarige voormalige afrigter van die Western Force in Australië – waar hy die jongste Superrugby-afrigter nóg was – is die nuwe rugbyhoof van SA Rugby (Saru); of dan sy algemene bestuurder van rugbyhoëprestasie.

“Rassie (Erasmus) het in 2008 my eerste regte rugbywerk gegee en ek weet hoe goed hy sake bestuur. Dit is ʼn voorreg om deel van ʼn wêreldgehalte sportorganisasie soos Saru te wees,” het Wessels gesê.

Benewens sy afrigterstyd by die Force, het hy ook rugbykennis by die Brumbies en Melbourne Rebels opgedoen.

Hy het ná ʼn dekade in Australië na sy geboorteland teruggekeer en hy was sedert 2022 die rugbyhoof van die Stormers.

“Die behoeftes van ʼn hoëprestasie-omgewing verander voortdurend en dit sal my plig weeg om ondersteuning te bied en stelsels in plek te kry wat die volgehoue sukses van Suid-Afrikaanse spanne in die toekoms sal verseker.”

Volgens Wessels is hy gereed om dié uitdaging aan te pak.

“Ek hoop dat die ervaring wat ek in Suid-Afrika en in die buiteland opgedoen het, voordelig sal wees. In dieselfde asem wil ek ook die Stormers bedank. Dit was wonderlik om deel van die span te wees en ek wens hulle alle sterkte toe.”

Sy aanstelling beteken dat Charles Wessels (Saru se voormalige algemene bestuurder van rugby) voortaan net op Springbok-aangeleenthede sal konsentreer.

Volgens Rian Oberholzer het die nasionale rugbybeheerliggaam dinge in oënskou geneem om die beste pad vorentoe te bepaal, sowel as om na die behoeftes van sy nasionale spanne om te sien.

“Die aanstelling van Dave Wessels bereik twee doelwitte: Dit laat Rassie en Charles Wessels toe om uitsluitlik op die nasionale span te konsentreer, terwyl hulpbronne ook geskep word om beter ondersteuning aan ons ander spanne te bied,” het Saru se uitvoerende hoof gesê.

Oberholzer het bevestig dat die Blitsbokke, nasionale vroue- en juniorrugbyspanne ook op die rugbyhoof se prioriteitslys is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.