Etzebeth en kie gee Sharks weer byt

John Plumtree. (Foto: Twitter/Sharks)

John Plumtree se frons het darem in ʼn glimlag verander ná Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd tussen die Sharks en die Dragons op Kingspark.

Die Durbaniete het glad nie ʼn goeie aanloop tot die toernooi geniet nie en hulle het ʼn rits kragmetings op ʼn streep verloor, maar hulle is terug op die wenpad nadat hulle die Walliese klub met 69 – 14 gestoomroller het.

Volgens Plumtree het die Sharks se terugkerende Springbokke – Makazole Mapimpi, Eben Etzebeth, Jaden Hendrikse, Ox Nche en Grant Williams – vir ʼn baie welkome momentum-inspuiting gesorg.

“Hulle was uitstekend. Dit is nie maklik om jou terugkeer te maak ná ʼn hoogtepuntoomblik soos om die Wêreldbeker te wen nie,” het die Sharks-afrigter gesê.

“ ʼn Paar van hulle het vir ʼn rukkie nie rugby gespeel nie en hulle was ʼn bietjie verroes terwyl die senuwees ook geknaag het. Tog sal hulle nou beslis gereed wees vir volgende week se aksie.”

Eben Etzebeth. (Foto: Michael Bradley/AFP)

Volgens Plumtree het Etzebeth en kie ʼn reuseverskil gemaak en hulle het as’t ware vir hul spanmaats ʼn selfvertroue-hupstoot gegee.

Die Sharks speel Saterdag teen die Bulls in ’n plaaslike derby op Loftus Versfeld en Plumtree weet dat dit nooit ’n maklike taak is om die Pretorianers op hul tuisveld te klop nie.

“Daar wag nog harde werk vóór die Bulls-wedstryd. Ons kon met tye meer kliniese spel teen die Dragons opgedis het; veral in ons eie halfgebied. Ek het respek vir die Bulls en hulle speel tans goeie rugby. Hulle het byvoorbeeld nou met Connacht afgereken; ʼn span teen wie ons verloor het.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.