Etzebeth ook ʼn reus vir Sharks

Eben Etzebeth het in sy eerste wedstryd vir die Sharks uitgeblink. Foto: Geoff Caddick/AFP.

As ʼn mens na Eben Etzebeth se afgelope vertoning teen die Glasgow Warriors kyk, kan jy met die sekerheid van ʼn braaivleisvuur-rugbykenner sê dat die Springbok-slot ʼn treffer in Durban kan wees.

Die 30-jarige vuurvreter het in sy eerste wedstryd vir die Sharks die speler van die wedstryd-toekenning ontvang nadat hy oudergewoonte sy teenstanders oordonder het.

Hy was so te sê onstuitbaar met die bal in hand, terwyl hy ook die stomme Warriors op die agtervoet met sy raakvat-verdediging geplaas het; om dan nie eens van sy lynstaanwerk te praat nie.

Dit is lank reeds bevestig dat Etzebeth ʼn rugbyfrats is. Hoe hy dit regkry om weekliks op alle suiers te vuur, is dalk ʼn goeie onderwerp vir ʼn doktorale proefskrif óf die draaiboek vir die volgende Marvel-rolprent.

Boonop lyk dit sommer so vanuit die staanspoor of hy sy rugby by die Sharks gaan geniet. En dit voorspel niks goeds vir die Durbaniete se teenstanders nie.

“Ek is ʼn Suid-Afrikaner in murg en been, ek is lief vir die land en ek wou nog altyd weer terugkom. Dit is vir my ʼn voorreg om deel van die Sharks-opset te wees; ek glo dat daar ʼn blink toekoms op die span wag,” het Etzebeth gesê nadat hy die Warriors verniel het.

Nodeloos om te sê glimlag Sean Everitt (afrigter) van oor tot oor.

“Jy kan nie anders as om Eben vir sy veelsydige spel te bewonder nie en hy was ongelooflik in sy eerste wedstryd vir die Sharks. Hy is een van die heel beste spelers in die wêreld en ná hierdie wedstryd kan hy beslis daardie etiket met trots dra.”

Dit is nie net die Durbaniete wat op Etzebeth vir die nodige vonk sal steun nie, hy is ook ʼn kolos in die Springbok-trui.

En met die Wêreldbeker-toernooi om die draai, sal Jacques Nienaber duimvashou dat daar niks met die sterk slot gebeur nie.

Eintlik moet Eben Etzebeth in watte toegedraai word. Maar ʼn mens kry die idee dat hy nie veel van watte sal hou nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

piet ·

Bakkies = goeie, gewillige staatmaker. Eben = super talentvolle rugby genie. Daar is nie eintlik ‘n vergelyking nie.

MakersMark ·

Nee wat piet dink nie jy is reg nie Bakkies was vinniger, het beter hanteer en het meer duikslae uitgevoer. Bakkies het meer talent en kon baie beter aanpas by verskillende kondisies. Bakkies was beter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.