Faf meen Bokke kan spiere bult

Faf de Klerk in aksie vir die Springbokke. (Foto: AP Photo/Florencia Tanjun)

Terwyl Franse en Ierse rugbyondersteuners daarvan oortuig is dat hul nasionale spanne later vanjaar met die Wêreldbeker-louere kan wegstap, glo Faf de Klerk dat die Springbokke nooit onderskat moet word nie.

Die verdedigende Wêreldkampioenspan verwelkom trouens die buiteperd-etiket om die nek.

“Ons wil altyd die wêreld verkeerd bewys. Ek dink nie ons is ooit die gunsteling om ʼn wedstryd te wen wanneer ons teen die groot spanne kragte meet nie,” het die blonde skrumskakel in ’n onderhoud met AFP gesê.

Volgens die 31-jarige speler is die Springbokke egter nou ʼn meer geoliede masjien in aanloop tot die internasionale skouspel as toe hulle vier jaar terug met Engeland in Jokohama afgereken het.

De Klerk het onlangs die Sale Sharks in Engeland vir die Canon Eagles in Japan verruil en hy meen dat die korter eersterangse seisoen goeie nuus vir sy Springbok-vooruitsigte is.

Hy erken dat Sale se uitmergelende bepalingslys soms ʼn nadelige invloed gehad het. Spelers in Japan het dikwels nie soveel skete as ander internasionale sterre nie omdat daar nie so baie rugbywedstryde as in Europa of Suid-Afrika gespeel word nie.

“As jy te vroeg in die jaar op alle suiers vuur, gaan jy uitbrand wanneer dit saak maak. Tans voel ek egter fisiek baie goed.”

Baie van sy teenstanders meen dat die Suid-Afrikaner een van die heel beste skrumskakels op die wêreldverhoog is. Iemand soos Kieran Hardy het selfs in die aanloop tot verlede jaar se Wallis-toer sy lof besing.

“Die manier waarop hy die spel dikteer, bied ʼn unieke uitdaging, maar ek dink Faf de Klerk is een van die beste skrumskakels in wêreldrugby en dit is ʼn wonderlike geleentheid om teen hom kragte te meet,” het die Rooi Drake se nommernegespeler gesê.

Intussen meen De Klerk dat die Springbokke oorgehaal is om sterk in die drukkoker-situasie van ʼn internasionale uitkloptoernooi te staan.

“Daar is tans goeie wedywering onder die voorste spanne en dit wys dat dit goed gaan met rugby. Ek sou sê dat enige van die topvyfspanne op die internasionale verhoog maklik met die silwerware kan wegstap.”

Springbokke se Wêreldbeker-bepalings:

10 September: Springbokke teen Skotland (Stade Vélodrome)

17 September: Springbokke teen Roemenië (Stade de Bordeaux)

23 September: Springbokke teen Ierland (Stade de France)

1 Oktober: Springbokke teen Tonga (Stade Vélodrome)

14‑28 Oktober: Wêreldbeker-uitspeelwedstryde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kobus ·

Ek verwonder my deesdae aan die feit dat spelers persverklarings en onderhoude op TV behartig. Die afrigter is mos die persoon wat dit moet behartig. Watter speler sal tog nou ooit hulle kanse op sukses betwyfel en dan praat van hulle nog dubbelsinnig ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.