Farrell dink nog nie aan uittrede

Engeland se Owen Farrell beplan nie om binnekort sy rugbystewels weg te bêre nie. (Foto: Anne-Christine Poujoulat/AFP)

Ná twee Wêreldbeker-teleurstellings teen die Springbokke en gereelde têkkelskool-bywoning sê Owen Farrell dat hy nog nie aan uittrede dink nie.

Dit klink selfs of hy planne het om tot die volgende Wêreldbeker-skouspel in Australië aan te hou speel.

“Ek is mal oor wat ek doen, ek het ʼn passie vir rugby en ek twyfel of ek binnekort my voet van die versnelpedaal sal haal,” het die 32-jarige Engeland-kaptein gesê.

“Solank as wat ek my rugby geniet, sal ek wil aanhou speel. Ek is nie iemand wat my doelwitte op ʼn stuk papier neerskryf en gereeld daarna kyk nie, maar in my agterkop weet ek wat ek nog op die speelveld wil bereik.”

Farrell het die meeste punte (75) by die afgelope Wêreldbeker in Frankryk aangeteken, maar hy was magteloos om Suid-Afrika se terugvegpoging in die halfeindstryd op die Stade de France te stuit.

Die Springbokke het ʼn agterstand van 15 – 6 uitgewis om die kragmeting uiteindelik met 16 – 15 te beklink.

“As ek eerlik moet wees, glo ek nie dat ek die nederlaag al mooi verwerk het nie. Ja, die halfeindstryd-uitslag was baie teleurstellend, maar in die geheel was dit ʼn briljante toernooi.”

Farrell se têkkel-tegniek is knaend onder die vergrootglas en die losskakel moet gereeld aan sy vaardighede onder die wakende oog van Wêreldrugby se duikslagkenners skaaf.

Die gewoonteoortreder het onder meer in 2018 vir André Esterhuizen blatant met die skouer op Twickenham geloop sonder om sy arms te gebruik, terwyl hy in 2020 die 18-jarige Charlie Atkinson op ʼn uiters gevaarlike wyse platgetrek het.

Die Atkinson-plettervat het meer gepas in die rofstoeiwêreld as op ʼn rugbyveld gelyk en die WWE-ster John Bradshaw Layfield het juis kort ná die voorval op Twitter gesê dat Farrell met ope arms in die WWE verwelkom sou word.

“Hy probeer altyd om iemand hard te têkkel en hy doen dit gereeld hoog,” was Andy Goode, gewese Engeland-losskakel, se kommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Niklaas ·

Ek sal eintlik graag die einde van sy rugby loopbaan aankondiging wil aanhoor. Geen ondersteuner van die man nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.