Farrell se Franse praatjies verras spanmaats

Saracens se Owen Farrell. (Foto: Romain Perrocheau/AFP)

Volgens Jamie George het die gerugte dat Owen Farrell dalk vir Racing 92 in Frankryk gaan speel hom heeltemal onkant betrap.

Midi Olympique het Vrydag berig dat die 32-jarige losskakel dit glo oorweeg om ʼn kontrak van twee jaar met die Paryse klub te sluit. Daar is egter nog niks verder bevestig of ontken nie.

Volgens George – wat saam met Farrell vir Engeland en Saracens uitdraf – heers daar onsekerheid by sy spanmaats.

“Ons weet nie of hy ry of bly nie. Die gerugte het eers onlangs die ronde begin doen en dit was ʼn verrassing vir almal,” het die haker in ʼn onderhoud met die BBC gesê.

“Owen is iemand wat van sy privaatheid hou, maar ons twee is goeie vriende en ons sal seker een of ander tyd hieroor gesels. Op die ou einde bly dit egter sy besluit en ek weet dat hy die regte ding vir hom en vir sy gesin gaan doen.”

Farrell gaan ook Engeland se komende Sesnasiesveldtog misloop nadat hy besluit het om ʼn blaaskans van internasionale rugby te neem om sy eie en sy gesin se geestesgesondheid te prioritiseer.

In sy afwesigheid is George een van die gunstelingkeuses om sy kapteinskapskoene vol te staan. Die 33-jarige voorryman het Engeland reeds in 85 toetse verteenwoordig en hy het ook al saam met die Britse en Ierse Leeus getoer.

“Ek het nog nooit vantevore my land op die rugbyveld aangevoer nie, maar ek is trots dat my naam in dié gesprekke genoem word.”

“Dit is sekerlik makliker gesê as gedaan, maar ek sal my bes probeer om te sorg dat die moontlike kapteinskap nie ʼn invloed op my manier van dinge doen het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.