Foto’s: Iere hou kop teen Samoa in kaartspel

Foto: (AP Photo/Aaron Favila)

Dit is ʼn tweesnydende swaard, ene wat Wêreldrugby straks nie voorsien het nie, maar nog ʼn rooi kaart en twee geel kaarte kon so maklik Saterdag se Wêreldbeker-rugbywedstryd tussen Ierland en Samoa in Foekoeoka, Japan, in ʼn klugspel laat ontaard het.

Die Iere het nietemin met 47-5 gewen nadat hulle rustyd reeds met 26-5 voor was.

Ja, die spelers is skuldig en ja, Wêreldrugby se base probeer hul bes om vuilspel uit te roei, maar iewers sal ʼn streep getrek moet word. Of die spelers sal moet leer om glad nie hul skouers te gebruik wanneer hulle verdedig nie, of die skeidsregters sal maar anderkant toe moet kyk.

Daar is reeds sewe rooi kaarte in vanjaar se toernooi uitgedeel en die uitspeelrondes is nog nie eens bepaal nie.

Foto: (AP Photo/Aaron Favila)

Vergelyk dit met die vorige meeste: vier in 1995 en in 1999.

Boonop het Samoa Saterdag 17 strafskoppe afgestaan wat hul totaal in vanjaar se toernooi tot meer as 50 laat rek het.

Beroepspelers wat ʼn verdedigingsafrigter het?

Die Samoane het twee geel kaarte (Seilaka Lam en TJ Ioane) gekry, terwyl Bundee Akee, die Iere se binnesenter, in die 28ste minuut afgestuur nadat hy die Samoaanse losskakel, Ulupano Seuteni, met die skouer teen die kop getref het. Die Australiese skeidsregter Nic Berry kon geen versagtende omstandighede vind nie.

Foto: (AP Photo/Aaron Favila)

Maar was daar werklik baie verskil tussen Akee se skouerloop en dié van Lam? Albei was gevaarlik en teen die kop, maar buk spelers nie al hoe meer af om juis kaarte te melk nie?

Akee is slegs die eerste Ier wat in ʼn WB-toernooi die trekpas gekry het en slegs die vierde Ier (Willie Duggan, Jamie Heaslip en CJ Stander) wat afgejaag is.

Die Iere, wat vir langer as 50 minute met net 14 spelers gespeel het, het kop gehou en kalm gebly.

Die Iere is bo-aan groep A en wag nou in spanning om te hoor of hulle die All Blacks of die Springbokke in die kwarteindronde sal pak.

Daar is soveel permutasies en baie sal daarvan afhang of Japan en Skotland se kragmeting wat Sondag in Tokio moet plaasvind, weens tifoon Hagibis sal plaasvind.

Foto: (AP Photo/Aaron Favila)

Die Iere het soos gewoonlik al hul kaarte op die tafel geplaas en nie van hul spelpatroon afgewyk nie. Hulle is klinies, die skakelpaar Conor Murray en Johnny Sexton hou die bal voor die voorspelers en wanneer die kans hom voordoen, word die vinnige buiteagterspelers betrek.

Hulle het ʼn stewige voorry in Tadgh Furlong, Rory Best en Cian Healy, die slotte James Ryan en Iain Henderson wen tonne lynstaanbesit en die losvoorspelers, Josh van der Flier, Tadgh Beirne en Stander, ken net een pad: vorentoe.

Of hulle nou teen die Bokke of All Blacks sal speel, hulle sal nie van hul patroon afwyk nie, net soos die Bokafrigter, Rassie Erasmus, ook by sy wenpatroon sal hou.

Dit sal ʼn armdruk-stryd duisend wees.

Puntemakers:

Ierland 47 (26): Drieë: Rory Best, Tadhg Furlong, Johnny Sexton (2), Jordan Larmour, CJ Stander, Andrew Conway. Doelskoppe: Sexton (4), Joey Carberry (2).

Samoa 5 (5) Drie: TJ Lam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.