Vir die tweede agtereenvolgende naweek het die Blitsbokke tot die beker-kwarteindstryd van die HSBCS-sewesreeks deurgedring.
Dít kom nadat hulle gisteraand in Kaapstad 21 – 15 met die VSA afgereken het om eerste in hul groep te eindig. Hulle kom om 11:18 teen Kenia in een van die beker-kwarteindstryde te staan.
In die eerste twee groepwedstryde was die Suid-Afrikaners in ’n klas van hul eie om 49 – 0 met Japan en 26 – 14 met Fidji af te reken.
Maar tog het die dissipline effens in die VSA-kragmeting gelol: Chris Dry en Seabelo Senatla se geel kaarte het vir ’n meer gelykopstryd gesorg as wat aanvanklik verwag is.
Ten spyte van die kaart-probleme was daar hope spoed op die spyskaart.
Met een van die Amerikaners se drieë het hul Carlin Isles sowel as die Blitsbokke se Rosko Specman en Senatla almal op ’n stadium vinniger as 35 km/h gehardloop.
Die moedige Amerikaners is egter uit die beker-wedloop met Fidji wat die ander span in die Blitsbok-groep is om na die beker-kwarteindstryde deur te dring.
Die Suid-Afrikaners se volgende teenstanders sal allesbehalwe kanonvoer wees.
Die Keniane het gelykop teen Ierland (24 elk) gespeel en hulle het ook met Australië klaargespeel.
Gaan die Blitsbokke egter te sterk vir hulle wees? Beslis.
Vandag se kwarteindstryd-bepalings:
11:18: Blitsbokke teen Kenia
11:40: Frankryk teen Argentinië
12:02: Fidji teen Ierland
12:24: Nieu-Seeland teen Skotland.